Die Noordwes Universiteit (NWU) is toegewyd daartoe en doen alles in sy vermoë om stabiliteit op die Mafikeng-kampus te verseker. NWU-woordvoerder, Louis Jacobs, sê personeel en studente se veiligheid is ook belangrik vir die universiteitsbestuur. Dit kom nadat betogers en die polisie gister op die kampus haaks/slaags geraak het. Geringe skade is danksy streng polisie-teenwoordigheid aan geboue op die kampus aangerig. Betogers het polisiebeamptes met klippe bestook. Private, geparkeerde/stilstaande voertuie is in die proses beskadig. Daar was ook onsuksesvolle pogings tot brandstigting. Personeel is gevra om die kampus vir hul eie veiligheid te verlaat. Altesaam 60 mense is weens die geweld in hegtenis geneem. Jacobs sê die NWU kan nie bevestig of al die verdagtes studente is nie.
Met belanghebbendes se hulp glo die NWU dat oplossings gevind kan word en dat die akademiese program vir 2016 suksesvol voltooi kan word. Jacobs sê daar is ‘n gradeplegtigheidsgeleentheid vandag en nog ‘n plegtigheid môre (Vrydag) wat voort sal gaan, maar nie op die Mafikeng-kampus gaan plaasvind nie. Hy beklemtoon ‘n streng gebeurlikheidsplan is in plek.
Jacobs sê geen finale besluit is al geneem of akademiese en administratiewe aktiwiteite opgeskort gaan word nie. Mense se veiligheid is van belang. Hy sê tot dusver is die situasie op kampus rustig.
Aktiwiteite aan die NWU se Potchefstroom-kampus en Vaaldriehoek-kampus in Vanderbijlpark gaan soos normaal voort. – Christal-Lize Muller