Nuweling vind haar voete in musiekbedryf

0
629
Amy Aldeia FOTO: JUANI SMITH

‘n Nuwe gesig op die musiekhorison, Amy Aldeia, wat al die pad van die klein landboudorpie in die Vrystaat, Ladybrand kom, het haar voete gevind in die musiekmileu van die Stad van Rose.

Dié 30-jarige musikant het haar lewe lank ‘n spesiale liefde vir musiek gekoester – alternatiewe “indie” (‘n genre wat nie in ‘n enkele gedefi nieerde musiekstyl val nie en selfgepubliseerde musiek skep), akoestiese Afrikaans en Engelse musiek, om spesifiek te wees.

Volgens haar het sy haar voete gevind in die bedryf toe sy sowat ‘n jaar en ‘n half gelede terug Bloemfontein toe getrek het. “Ek is na ‘n Gallery House Songwritersaand genooi deur Belinda van Zee (bekende Bloemfonteinse kunstenaar) en het onmiddellik besef dat musiekskryf my passie is en iets is wat ek met die wêreld moet deel,” het Aldeia aan Bloemfontein Courant vertel.

Sy is tans besig om haar eerste enkelsnit op te neem, wat binne die volgende twee maande vir die publiek beskikbaar behoort te wees. Sy het ook genoem dat sy beplan om hierdie jaar die opname uit te reik van haar eerste “extended play” (EP) uit, ‘n musiekopname wat meer snitte as net een bevat, maar nie as ‘n album kwalifi seer nie.

Sy beskryf haarself as ‘n sangerliedjieskrywer wat slegs probeer om ‘n melodie by te voeg tot die avonture van die lewe. Aldeia is van gemengde afkoms (Portuguees en Mosotho) en het grootgeword op die platteland, wat ook ‘n baie groot rol gespeel het in haar unieke wyse van musiekmaak en -skryf.

“Ek het ‘n massiewe liefde vir oorspronklike Suid-Afrikaanse musiek. Ek word meestal geïnspireer deur kunstenaars soos Belinda van Zee en Marcia Moon. Bloemfontein is vol talent en ek wil mense baie graag aanmoedig om plaaslike talent te ondersteun en deel te neem op platforms soos Gallery House Songwriters-aande en hul onderskeie talente met die wêreld deel,” sê Aldeia.

Om haar reis te volg of meer van haar musiek te hoor, besoek haar Faceboek-blad @AmyAldeia.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za