PIETER MÖLLER
Nuweling boere sien lig aan die einde van ‘n donker tonnel in die uitdagende landboubedryf. Die afgelope jare se opleiding en leiding van georganiseerde landboustrukture en ook individuele boere het hulle gehelp om ‘n ekonomiese aanwins vir die land te wees.
Tydens die onlangse kongres van die Melkprodusente-organisasie (MPO) in die Vrystaat en die Noord-Kaap, asook die toekenningsgeleentheid van Meester Suiwelboere van die Jaar, is die rol van nuweling boere weer bespreek, terwyl positiewe insette oor die boere gelewer is.
Een van die nuweling boere waarmee AgriEco gesels het, is Willie Jacobs van Tweespruit. Hy is as die beste nuwe toetreder tot die suiwelbedryf aangewys.
Jacobs vertel opgewonde van ‘n besliste toekoms in die suiwelbedryf. Hy glo dat ‘n suiwelboer sy skuld kan betaal en steeds geriefl ik leef. Hy bring roem aan die goeie hulp en ondersteuning van die department van landbou. Die tegniese spanne en die sogenaamde landbouvoorligters het ook ‘n spesiale pluimpie gekry. Jacobs raai sekere boere aan om steeds van regeringshulp gebruik maak, al is die regering se prosesse soms lank en uitgerek.
Om te begin boer, vat baie kapitaaluitlegte, omdat die plaas eers ondersoek moet word om vas te stel watter landboubedryf daar effektief bestuur kan word. Dit is hier waar die regering ‘n kardinale rol speel met advies. ‘n Ander belangrike punt wat boere in gedagte moet hou, is wie hulle markte is. Veral omdat met bederfbare produkte gewerk word, moet die mees gunsteling mark as afsetgebied verkry word.
Die beste nuweling boer is Jan Zim. Hy voel baie gelukkig tussen sy melkbeeste op sy plaas in Qwaqwa, tussen Kestell en Harrismith. Volgens hom het die regering ook gehelp met skenkings, wat tien beeste en ‘n trekker insluit. Zim sê hy is baie gelukkig in die landbousektor en sal ander voornemende boere ook aanmoedig om die suiwelbedryf te betree.
Bernard Maree, voorsitter van die MPO in die Vrystaat, sê die probleme in die melkbedryf, raak alle nuweling en kommersiële boere. Die afname in melkpryse raak boere só erg dat dit ‘n afname in die getal melkboere kan meebring. “Die bedryf kan nie bekostig om nog lede te verloor nie. Drastiese optrede moet gevolg word om die bedryf te stabiliseer,” sê Maree.
Verskeie landbouorganisasies het ook voorgeneem om die rol van nuweling boere in die onmiddellike toekoms te versterk.
Harry Prinsloo, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, sê daar is etlike jare gelede reeds begin om te fokus op nuweling boere en veral effektiewe opleidingsprogramme om nuweling boere te help om hul regmatige plek in die sektor te neem. Hy verwys ook na skaapskeerders se opleidingsprogramme en die suksesse wat Suid-Afrikaanse Skaapskeerders onlangs op die wêreldkampioenskap in Nieu-Seeland behaal het.
Prinsloo sê daar is gereelde werksessies en opleidingsprogramme wat in die ou tuislande, veral Transkei gedoen word, wat groot sukses behaal het. Vroeg in September gaan ongeveer 2 000 opkomende swart wolboere ‘n volwaardige kongres hou waar eiesoortige aktuele sake bespreek sal word.