E Copy

Date:

Nuwe wêreld gaan vir Martie du Plessis-leerder oop

‘n Nuwe wêreld het verlede week vir ‘n graad 2-leerder aan die Martie du Plessis-skool oopgegaan toe hy die ontvanger van ‘n splinternuwe gespesialiseerde rekenaarprogram, sowel as ‘n nuwe skootrekenaar, was.
Matthew Evans is ‘n pragtige blou-oog krulkopseun wat al sy terapeute en onderwysers se harte gesteel het. Hy is op 30 weke gebore en Matthew is kort daarna gediagnoseer as ‘n serebraal gestremde seuntjie.
Met baie vrae en onsekerheid oor wat die toekoms inhou, het sy ouers, Rosanne en Brent, hom van dag een af grootgemaak met baie liefde en deernis. Rosanne en Brent probeer sover hulle kan om Matthew alles te laat ervaar wat sy sussie Caitlyn doen, maar hy besef en weet wat sy beperkings is. Met die hart van ‘n leeu laat hy hom nie sommer onderkry nie. Soos enige ander seun van sy ouderdom, is Matthew mal oor krieket, gholf en sokker. Hy is baie lief vir sy hond, ‘n spanjoel met die naam Sandy, wat elke aand by hom in sy bed slaap.
Weens sy gestremdheid is Matthew geheel en al afhanklik van hulp by die huis, sowel as in die klas. Sy tutor, Maria Moeketsi (wat self ‘n serebraal gestremde kind het), help Matthew om sy daaglikse take by die skool te verrig. Sy haal hom elke oggend van die bussie af, plaas hom in sy rolstoel, en stoot hom waar hy moet wees. Sy voer hom, help hom met toiletroetine en in die klas het sy tot op hede alles vir hom geskryf.
Met die genade van Bo het prof. Pieter Blignaut van die Universiteit van die Vrystaat by Martie du Plessis betrokke geraak. Hy het spesiaal vir Matthew ‘n rekenaarprogram ontwerp om hom met sy verpligtinge in die klas te help. Verlede Maandag het hy sy nuwe rekenaar van Tau Pele met die nuwe program daarop ontvang. Matthew kan nou vir die eerste keer deur middel van ‘n “eye tracker” en die gespesialiseerde program sy naam met sy ogies tik. Die “eye tracker” is ‘n hulpmiddel wat aan die rekenaar gekoppel word. Matthew se oë kalibreer dan met die skerm. Hy kyk net vir die klanke en die rekenaar tik self voort. Op skolastiese gebied word Matthew deur verskeie rolspelers die geleentheid gebied om onafhanklik te wees, om nou self te ervaar en te sien hoe hy kan “tik met sy oë”. Sy graad 2-juffrou en klasmaats dink hy is die “coolste maatjie” wat met sy ogies kan tik.
Volgens Johan Grobbelaar van Martie du Plessis is dit die skool se droom dat Matthew eendag matriek met vlieënde vaandels sal slaag met die hulp van hierdie nuwe program, en sodoende berge gaan versit.
“Ons doel as span by Martie du Plessis is om vir elke leerder die beste kans op sukses te gee. Ons probeer die drome van elke leerder en sy of haar ouers, wat geen hoop meer gehad het nie, te herbou – hoop, wat akademiese, sowel as sosiale potensiaal aanspreek, sodat elke leerder fisiek sover moontlik onafhanklik kan wees. Ons is nie altyd suksesvol in die proses van drome herbou en die gee van nuwe hoop nie, maar ons sal nooit ophou om ons bes te doen nie.”

Share post:

Popular

More like this
Related

FS teachers won’t lose medical benefits

Following days of uncertainty, the Free State Department of...

Surviving the VAT increase

During the Budget Speech last week, Minister of Finance...

Geraasbesoedeling in Universitas: Inwoners kla oor nagklubs in Willows

Inwoners van Universitas het hul stem dik begin maak...

11-jarige voltooi Kaapstad Fietsrytoer saam met oupa

Die 2025 Kaapstad Fietsrytoer se jongste deelnemer, die 11-jarige...