Die ou jaar is verby en 2013 lê lank en uitgestrek voor jou en my. Miskien wonder jy watter verskil jy kan maak in die gemeenskap. Onthou, jy is gekies om voluit te leef. So baie mense maak hulle lewe vol met negatiewe gedagtes en stories. Hieroor skryf Shakespeare: “Verander jou denke hierdie maand en vind maniere om positief te leef.”
Raak vandag ontslae van negatiewe gedagtes oor mense en dinge in jou lewe. Hiervan lees ek in Fillipense 4:8 – “Alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Wees dus op die uitkyk vir die mooi en maak nou die beste van elke geleentheid. Soek die wonder wat in elke dag wag. Vind vreugde in die feit dat jy vandag bestaan.
Sien saam met my die mooi raak en deel die mooi van jou eie lewe met ander. Soek vandag die mooi stories van jou familie en gesin en begin fokus op die alternatiewe verhale van sukses en omgee in jou huwelik en gesin. Wees dankbaar met jou mond en goed. Gee al is dit net die bietjie wat jy kan bekostig, maar gee omdat jy wil gee.
Elke dag is ’n oomblik van nuwe besluite. Jy hoef nie te wonder nie, want daar is nog sulke mense soos jy, as jy vandag besluit om ’n verskil te maak!
Ds. Stephan van Heerden