Nuwe teleskoop vir Boyden

0
512

Navorsers aan die Universiteit van die Vrystaat sal binnekort hulle studie van die ruimte kan opknap danksy ‘n teleskoopskenking van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag (SAAS).

Die 0.75m-teleskoop wat by die Boyden Sterrewag in Boemfontein geïnstalleer sal word, is een van twee ruimtewaarnemingstoestelle wat hierdie week aan nuwe eienaars oorhandig word. Albei teleskope is tans by Sutherland in die Karoo opgerig.

Oudsterrekundige Ian Glass sê in ‘n verklaring die teleskoop is spesifiek in 1974 deur Grubb Parsons van Newcastle on Tyne in Brittanje gebou om in Sutherland opgerig te word.

Volgens Glass is hierdie teleskoop gebruik vir verskeie belangrike infrarooi- en sigbare lig-waarneming van sterre, insluitend die 1987-Supernova-ontploffing wat plaasgevind het in ons naaste sterrestelsel, die Groot Magellaniese Wolk.

Die tweede teleskoop, ‘n 0.5m-apparaat wat in 1968 deur Boller & Chivens in California gebou is, word aan die Universiteit van KwaZulu-Natal geskenk.

Luidens die verklaring is dié twee instansies gekies uit verskeie voorstelle wat gedoen is. Die SAAS sê, “Die skenking kon slegs toegeken word aan instansies wat voldoen aan die SAAS se vereistes van studente-opleiding, vooruitstrewende wetenskaplike navorsing en openbare betrokkenheid.”

Afgevaardigdes van albei instansies sal hierdie week teenwordig wees wanneer die teleskope uit hulle onderskeie koepels gelig word.

Die SAAS se hoof van teleskoopbedrywighede, dr. Ramotholo Sefako, sê sodra die teleskope na hulle nuwe tuiste verskuif is, die koepels verder sal verander word om twee nuwe robot-teleskope te akkommodeer.