Nuwe skool kom vir Wild Olive Estate

0
739
'n Skematiese voorstelling van die Olive Ridge-skool, wat in Januarie 2020 in Wild Olive Estate gaan open.

Inwoners wat in die noorde van Bloemfontein woon, kan uitsien na ‘n nuwe skool wat vroeg in Januarie 2020 in Wild Olive Estate gaan open. Volgens die skool se uitvoerende hoof, Hansie Engelbrecht, is Olive Ridge ‘n private skool wat ‘n breëspektrum-kurrikulum gaan volg. Engelbrecht sê dat Wild Olive Estate gekies is as tuiste vir die skool omdat dit in ‘n veilige omgewing geleë is en ook omdat die ingang baie toegangklik is vanuit Kenneth Kaundaweg.

Volgens Engelbrecht reageer die gemeenskap baie positief op die nuus van ‘n nuwe skool. Daar is wye belangstelling van onderwysers en ouers. Die skool sal in Januarie 2020 vir leerders van 18 maande tot graad 1 open en hulle beoog om die fases vir graad 2 tot 3 en graad 8 en 9 in 2020 gereed te hê om in 2021 te open. “Ons verwag dat die skool ten volle voltooi sal wees teen 2022 sodat ons leerders van 18 maande tot graad 12 kan akkommodeer.”

‘n Klaskamer in die Olive Ridge-skool, wat in Januarie 2020 in Wild Olive Estate gaan open vir kinders van 18 maande tot graad 1.

Die skool sal ‘n unieke taalbenadering hê. “Die argument vir moedertaalonderrig in die vroeë ontwikkelingsjare van ‘n kind is die afgelope paar jaar deur kundiges op die voorgrond geplaas,” verduidelik Engelbrecht. Hy sê Engels sal die belangrikste onderrigtaal wees, maar hulle sal terselfdertyd ‘n gemengde opsie aanbied vir die Afrikaanse en Sotho-leerders sodat enige struikelblokke in die leerders se vroeë ontwikkeling oorbrug kan word, siende dat Engels nie hul huistaal is nie. Dit sal bereik word deur individuele onderrig en hulp sowel as ‘n veeltalige benadering in die klaskamer self.

Volgens Engelbrecht sal hierdie benadering ook Engelssprekende leerders bevoordeel omdat hulle vroeg in hul lewe aan ander streekstale blootgestel sal word. Hierdie benadering sal van kleins af tot graad 3 gevolg word. Vanaf graad 4 en verder sal die leerders in staat wees om die Engelse taal voldoende te hanteer om aan die voorafgaande kurrikulêre vereistes te voldoen.

Hy het het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat hulle nou ‘n tydelike kantoor in Calliopestraat 1 betrek het, waar ouers en leerders kan navraag doen. Die skool se telefoonnommer is 051-492-4847 en mense kan ook hul webwerf: www.olive-ridge-school.co.za besoek. – Sazly Hartzenberg 
sazly@centralmediagroup.co.za