Nuwe rigting vir New Beginnings

0
572
President en stigter van New Beginnings, Emain Fourie.

Die nie-winsgewende Bloemfonteinse organisasie, New Beginnings, het 2021 afgeskop met drie splinternuwe projekte om die gemeenskap op te hef en om langtermynverandering teweeg te bring.

Volgens die president en stigter van New Beginnings, Emain Fourie, het die organisasie uitgebrei en hul eie maatskaplike werker aangestel wat voortaan saam met hulle sal werk en behulpsaam sal wees met die nuwe opwindende projekte wat hulle vir hierdie jaar beoog.

Fourie vertel dat hulle nou ‘n beursprogram het waar beurse aan minderbevoorregte kinders van plattelandse gebiede en kinders van plaaswerkers toegeken word.
“Tans het ons vier kinders wat by ‘n privaat Christelike skool in Bloemfontein is. Divine Elite School werk saam met ons om toekomstige leiers en die volgende generasie te ontwikkel.” Sy sê dat hulle dringend borge benodig wat bereid is om ‘n kind ‘aan te neem’ en skoolgeld, vervoer en uniforms te borg.

Hul tweede projek is die perdereddingsprojek. Hierdie projek lê Fourie na aan die hart en is volgens haar gebore uit ‘n visie wat God aan haar gegee het, naamlik om diere en kinders te help en hul lot te verander. “Ons het tans twee perde wat ons gered het en ons begin met perdeterapie in Mei. Ons beplan om saam met ‘n perdeterapeut en ons maatskaplike werker aandag te gee aan kinders wat trauma deurgemaak het maar geen vorm van terapie gekry het om te help nie.”


New Beginnings gaan ook vaardigheidsontwikkelingsprogramme met tieners doen om hulle nie net te help herstel en genees nie, maar ook toe te rus om ‘n inkomste te verdien.
Hierdie projek vereis groot finansiering. “Ons is besig met die proses om ‘n sentrum vir perdeterapie te bou en ons benodig vennote om dié projek te voltooi, sowel as mense wat maandeliks terapiesessies sal borg.”

Fourie vertel dat die organisasie ook mense help wat handgemaakte artikels maak om ‘n inkomste te verdien. Dit is gewoonlik mense met ‘n talent of vaardigheid wat geen bron van inkomste het nie. “Ons ondersteun hulle dan en koop hul artikels om weer by ons reddingsentrum te verkoop of op te veil. Dié projek word New Beginnings Handmade with Love genoem.”

Sy wil graag diereliefhebbers in kennis stel dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie, die organisasie doen steeds alles wat hulle voorheen gedoen het, net méér. Gemeenskapslede kan kies by watter projek hulle sou wou inskakel en ‘n e-pos stuur aan Fourie by info@newbeginningscharity.co.za

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za