Nuwe landdros het hande vol met Bainsvlei-moordsaak verskyning

0
798

OWEN KOCK

Tydens vanoggend se eerste verskyning van die moord verdagtes van die Swanepoel-egpaar, Toon en Rienie van Bainsvlei, het ‘n gespanne atmosfeer behoorlik geheers in Hof 19 van die Bloemfonteinse Landdroshof. ‘n Woordewisseling tussen lede van die familie, polisie en hofordonnanse, nog voor die saak voorgekom het, het chaos veroorsaak.

Die media is ook verbied om enuige foto’s van die verdagtes te neem, dit terwyl daar nie eers sprake van ‘n uitkenningsparade was nie. Fana Hendrik Mtshudi (19), Motsamai BItterbos (25) en Jackie Louw (19) verskyn weer op 21 Januarie in die hof vir ‘n moontlike borgaansoek. Ntshudi het ‘n vorige veroordeling van huisbraak teen hom, terwyl Bitterbos en Louw, geen ander oortredings teen hulle het nie.

Al drie verdagtes het bang voorgekom en heeltyd koponderstebo in die beskuldigdebank gesit, terwyl hulle deur lede van die familie en vriende beledigings toegesnou is.

Die staat het gesê hulle wil ‘n deeglike ondersoek na al drie verdagtes se verlede doen.

‘n Geskreeu het ontstaan en het letterlik sekondes voor landdros RJ Lawrence die hofsaal binnegestap het, noodgwonge gestop. Lawrence het pas vanuit die Oos-Kaap in die Vrystaat aangekom en het verlede week nog observasiewerk in die hof gedoen.
‘n Lid van die Swanepoel-familie het dit heeltemaal verloor (en gekruide taal gebruik), toe die drie verdagtes, Mtshudi, Bitterbos en Jackie Louw na die hofselle begelei is, en hulle met die dood gedreig. ‘n Vriend het egter tussenbeide getree toe die polisie nadergestaan het en hulle gevra om hom oor te sien aangesien dit sy familie is wat vermoor is.