Ek wil begin om alle lesers van Bloemfontein Courant ‘n voorspoedige 2018 toe te wens. Mag 2018 inderdaad goed eindig vir jou.
Ek het lanklaas soveel positiwiteit en optimisme so vroeg in ‘n nuwe jaar ervaar. Dit kan net wees omdat Jacob Zuma se uurglas begin leegloop. Hy kan dalk binnekort ook as president van die land deur iemand “beter” as hyself vervang word.
Met iemand “beter” bedoel ek iemand met beter visie, meer integriteit, wat nie korrup is nie en wat die nasie en die ekonomie positief sal bevorder eerder as verwoes. Ons weet teen dié tyd dat Cyril Ramaphosa reeds die ANC se leisels by Zuma oorgeneem het, en ten minste teen 2019 ook die leisels van die regering by Zuma sal oorneem (of kan dit dalk vroeër gebeur?).
Uit alle oorde hoor ons al dat mense en instansies ‘n beroep doen op Zuma om vrywilliglik te bedank. Ek kan dit egter nie sien gebeur nie, tensy die ANC heelwat interne druk op Zuma uitoefen. Alternatiewelik kan Zuma as president herroep word. Dit kan egter ook moeilik wees aangesien Zuma steeds heelwat steun in die parlement het en heelwat van sy lakeie se beursies vol gehou word met sy posisie as president van die land.
Indien Zuma dus president van die land gaan bly tot 2019, gaan die ANC geteister word deur binnegevegte (die Ramaphosa-kamp versus die Zuma-kamp) en politieke onsekerheid gaan in ‘n groot mate voortduur.
Aan die ander kant (dink ek) gaan die Ramaphosa-kamp heelwat druk op die ongewenste ANC-elemente begin uitoefen, en dit het reeds begin gebeur in die toesprake wat Ramaphosa tot dusver gelewer het.
Die randwisselkoers kan in baie opsigte beskou word as die prys van Suid-Afrika, en word sterk beïnvloed deur hoe die buiteland ons beskou en watter waarde hulle sien in besigheid en sake-doen met Suid-Afrika.
Onder Zuma het ons die rand sien taan en in werklikheid het Suid-Afrika “minder werd geword”. Die rand ervaar Ramaphosa egter baie positief en het reeds vlakke bereik van waar dit was voor Pravin Gordhan afgedank is. Suid-Afrika se waarde het dus reeds begin verhoog, en met goeie ekonomiese beleid kan ons baie meer stabiliteit in die randwisselkoers ervaar.
Natuurlik sal die sterker rand inflasie help in bedwang hou en kan ‘n verlaging in die rentekoers ‘n waarskynlikheid word. Weer eens, met goeie ekonomiese beleid sal dit ekonomiese groei in die land aanwakker. In die buiteland lyk die vooruitsigte vir finansiële markte ook positief.
Gooi dit alles bymekaar en Suid-Afrika kan ‘n goeie 2018 beleef; die vooruitsigte is vir seker positief.
HORACE TERRY
horace@nassaux.com