Nuwe hoogtes wink vir Arend

0
572
Arend Brink Jr se hart lê in trom speel.

Arend Benjamin Brink, oftewel Arend Brink Jr, is deel van die Arco Musica-groep wat mense op verskeie geleenthede met hul stemme betower.

Brink, wat in Bloemfontein gebore is en aan Grey-kollege matrikuleer het, het na skool BMus aan die Noordwes Universiteit studeer en is nou voltyds terug in die Rosestad.
Sy liefde vir musiek het in sy ouerhuis onstaan waar hy grootgeword het in ‘n omgewing waar albei ouers musiek as ‘n loopbaan gevolg het. “Ek is blootgestel aan ‘n wye verskeidenheid musiekinstrumente en -genres. Almal by wie ek les geneem het, het ‘n baie groot rol gespeel om by te dra tot my liefde vir musiek.”

Op die ouderdom van 14 jaar het hy begin sing hoewel hy reeds van baie vroeg in sy lewe al insturmente bespeel het. “Ek het vir sewe jaar tjello gespeel en ook vyf jaar klassiekekitaar-lesse op laerskool geneem. Tydens my hoërskooljare het my liefde vir tromme ontwikkel, totdat my ouers ‘n ekstra drummer nodig gehad het vir ‘n konsert,” het hy vertel.

Arend Brink Jr

Brink Jr het hom toegespits op tromme en lesse begin neem. Hy het sy graad sewe-Trinity-eksamen by Jaco de Wet afgelê en is tans besig om voor te berei vir sy graad agt Trinity-eksamen. Hy het ook vir vier jaar by die bekende sangeres, Cézanne Yzelle, stemafrigting gekry.

Die talentvolle jongman is nie net bekend in die Arco-groep nie, maar reeds van jongs af deel van die Bloemfontein Baptiste Kerk se orkes. Dit is waar hy geleer het om sy liefde vir God deur musiek uit te leef.

Tans is hy steeds baie betrokke by Arco Musica aangesien dit sy ouers se besigheid is. “Ek kry baie geleenthede om saam met Arco te sing en tromme te speel. Ek tree ook saam met Peter Cleff, bekend as Petrus van Wyk, op. Hy is ‘n baie talentvolle kitaarspeler. As ek ooit die geleentheid kry om solo te sing, sal ek dit aangryp.”

Brink Jr is tans besig met ‘n YouTube-kanaal saam met Peter Cleff, en hy leer soveel hy kan by Arco. As die geleentheid opduik om sy musikale horsion te verbreed, gaan hy in die VSA werk.

Die rolmodelle in sy lewe? “Natuurlik eerste my ouers, Debbie en Arend, en daarna mense soos John Mayer, Josh Groban, Andrea Bocelli, Michael Buble, Zedd en vele ander.”
Hy sluit af met die woorde: “Ek wil mense met my musiek inspireer, deur die manier hoe ek musiek maak, maak nie saak watter genre ek mee besig is en watter instrument ek bespeel nie.”

Kort feite:
1. Klassieke of rock musiek? ‘n Fusion – ‘n mix van albei.
2. Steak of seekos? Steak.
3. Gunsteling-liedjie? Die een waarmee ek besig is – Gravity.
4. Gunsteling-fliek? Whiplash.
5. In jou vrye tyd doen jy…Ek speel graag muurbal en wakeboard.
6. ‘n Geheim? Ek’s ‘n gamer.

-Jeretha Ooshuizen
jeretha@mahareng.co.za