Nuwe era vir Vrystaat-simfonieorkes

0
469
Artistieke direkteur, Alex Fokkens

Die Vrystaat-simfonieorkes (FSSO) het ‘n jaar van ‘post-Covid’-veranderings aangekondig en konsertgangers kan uitsien na verskeie simfoniekonserte in 2021.

Artistieke direkteur, Alex Fokkens, werk tans aan “‘n volle jaar van konserte”. Dit ten spyte van die effek van onsekerhede en beperkinge op binne- sowel as buitebyeenkomste. Voorsitter van die FSSO-raad, prof. Frederick Fourie, het gesê hulle hoop dat die toename in inentings deure sal open vir ‘n meer normale post-Covid-musiekomgewing in die tweede helfte van die jaar, veral met die oog op 2022.

“Volgens voorlopige beplanning, sal die eerste geleentheid ‘n FSSO-konsert in die Botaniese Tuine behels, in die middel van April. Daar word gehoop dat konserte in die Sand du Plessis-teater moontlik sal wees, miskien reeds in Junie,” het Fourie bygevoeg.

Daarná is ‘n Jeugfees in die pyplyn, sowel as ‘n simfoniekonsert met Gérard Korsten as dirigent, wat voorlopig vir 4 September 2021 geskeduleer is. ‘n Groot simfoniekonsert word ook vir November hierdie jaar in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein beplan. Volgens Fourie sal meer besonderhede oor konserte en venues beskikbaar gestel word soos wat die jaar ontvou.

‘n Verandering in bestuur is ook in die vooruitsig aangesien die FSSO- artistieke direkteur, Alex Fokkens, uittree aan die einde van 2021 ná 10 jaar aan die stuur. Fourie het gesê daar sal sonder twyfel veranderinge in die FSSO kom. “Hoewel ons jammer is om Alex se kreatiewe programaanbieding te verloor, sien die raad uit na die nuwe inisiatiewe wat sy opvolger ongetwyfeld sal implementeer.

Ons begin binnekort soek na ‘n nuwe artistieke direkteur om ‘n gladde oorgang en oorhandiging van die leisels gedurende die jaar te verseker,” het Fourie afgesluit.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za