Nuwe Cheetahs meld aan vir diens

0
170
Rhyno Smith (regs) en Craig Barry (links) het albei voorheen as leenspelers vir die Toyota Cheetahs in die Guinness PRO14-reeks uitgedraf. Die paar is terug in die Rosestad met volle kontrak. FOTO: MORGAN PIEK

Die 2019/20-Guinness PRO14-reeks skop oor net meer as ‘n week in Bloemfontein af wanneer die Toyota Cheetahs die Skotse reuse, Glasgow Warriors, die stryd aansê.
Die Curriebeker is iets van die verlede en die aandag is nou op die internasionale kompetisie.

Maandag het heelwat van die Cheetahs se nuwe spelers by die span aangemeld vir diens en dit sluit Craig Barry (heelagter/vleuel), Rhyno Smith (heelagter) en Wilmar Arnoldi (haker) in. Daar was ook ‘n handvol leenspelers uit Griekwas-geledere wat by die Cheetahs aangemeld het, soos Sias Koen (flank), George Whitehead (losskakel) asook Anthony Volmink (heelagter/ vleuel).

Chris Massyn (flank), Chris Smit (senter) en Duncan Saal (vleuel) is egter nog nie deel van die Cheetahs nie. Massyn en Saal sukkel albei nog met skete. Boonop het die Griekwas se stut, Khwezi Mona, verlede Donderdag ‘n skoueroperasie ondergaan en sal hy nog vir ‘n geruime tyd op die krukkerlys wees.

Die Oud-Grey en Blou Bulle- en WP-stut, Neethling Fouché, was wel Maandag by die oefensessie maar het nie deelgeneem nie aangesien sy leenooreenkoms nog nie 100% gefinaliseer is nie.

Intussen word daar geglo dat die nuwe afrigter, Hawies Fourie, aan die einde van die maand sal aanmeld. Hy sterk tans nog aan na ‘n operasie.

Die Cheetahs pak Glasgow aanstaande Vrydagaand om 19:15 in die Toyota-stadion.
Die kragmeting tussen die Cheetahs en Munster sal op 11 Oktober in Bloemfontein gespeel word en skop af om 18:15. – MORGAN PIEK