Nuwe boompies in historiese Naln-tuin

0
475
Nuwe boompies met lemoene in die Nalnboomtuin.

Wyno Simes, kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) en Paul Colditz, voorsitter van die Vriende van Nalnvereniging, nooi Bloemfonteiners uit na die viering van die nuwe aanvulling tot die historiese boomtuin in die binnehof van die Ou Goewermentsgebou op 29 November.

Die ou Goewermentsgebou is ‘n verklaarde historiese gebou en spesiale toestemming moes by die Vrystaatse Erfenishulpbronagentskap verkry word om die ou bome uit te haal en met jong boompies te vervang. Om die historiese korrektheid van die binnehof te behou, is die boompies in die hoeke geplant, maar ongelukkig kon daar nie weer ‘n vyfde boom in die middel geplant word soos voorheen nie.

Volgens Colditz is die Vriende van Naln ‘n groep vrywilligers wat Naln ondersteun in sy pogings om Afrikaanse geletterdheid en kulturele erfenis te bevorder en te beskerm.

Die bome vorm ‘n baie belangrike deel van die erfenis van die Vrystaat, die gebou self en van die geskiedenis van Bloemfontein. Dit vorm ook ‘n belangrike deel van die Naln-handelsmerk. Ons glo dit sal nie binne die mandaat van die departement wees om vir die herplanting van bome te betaal om daardie deel van die geskiedenis te herstel nie, daarom het die Vriende van Naln besluit om dié poging te finansier.”

Die oorspronklike eeu oue bome is verlede jaar uitgehaal nadat die bome ná die draai van die millennium ’n dodelike soort wortelvrot, Phytophthora (“collar rot”) gekry het. Ses boompies is in potte gekweek, waarvan twee uitgeplant is en nou soos “’n goue glans tussen die groen” pryk, soos wat Uys Krige in sy gedig skryf. Nog twee boompies is op 11 November hierdie jaar uitgeplant.

Volgens Colditz het die wapen van die Vrystaatse Republiek weens ‘n waninterpretasie van die Engelse woord, “Orange”, verkeerdelik lemoene aan die boom gekry. Met die lemoene op die amptelike wapen in gedagte, het die amptenare van die Oranjervierkolonie in 1909/1910 vyf lemoenbome in die binnehof geplant – een in elke hoek en een in die middel.

Vieringe begin om 09:00 vir 09:30. Parkering is beskikbaar aan die voorkant van die Ou Goewermentsgebou, Pres. Brandstraat, via die hek agter die standbeeld. Covid-19-regulasies geld. RSVP: annelien.naln@sacr.fs.gov.za

Sazly Hartzenberg

sazly@mahareng.co.za