Nuwe boek unieke blik op VS-dorpe

0
Nuwe boek unieke blik op VS-dorpe

LOUWNA ERASMUS

Bloemfontein gons oor ’n nuwe boek wat onlangs die lig gesien het. Dr. Jan van der Merwe se Vrystaatse Dorpe het sowat tien jaar geneem om na te vors waarvan agt hiervan intensiewe navorsing geverg het. “Ek het elke dorp en elke township besoek,” vertel Van der Merwe, ’n antropoloog wat tans strategiese adviseur is vir die adjunk-burgermeester van Mangaung. “Om stories orals uit te snuffel was heerlik en uitdagend – selfs Google se inligting oor sekere dorpe is slegs twee lyne lank.”   Van der Merwe en prof. Philippe Burger, wat ook vir sommige foto’s in die publikasie verantwoordelik was, het in die laaste vyf maande voor publikasie sowat 8 000km afgelê in die Vrystaatstreek.

Van der Merwe glo hierdie boek sal beslis vermaak en dalk ook sommige lesers skok. “Ek het probeer om dit so gebalanseerd as moontlik te hou, en tog is daar stories waaroor jy nie ’n sluier kan trek nie,” vertel hy. Hier verwys hy byvoorbeeld na die seksskandaal op Excelsior wat dekking geniet het van niks minder nie as 52 internasionale mediahuise in die 1970’s. Van der Merwe het die boek opgedra aan die NG Kerk, want die kerk het ’n groot rol gespeel in die stigting van menige Vrystaatse dorp. “Toe die Afrikaner op sy heel armste was, het hy die heel mooiste kerke gebou soos dié wat jy sien op Wepener, Luckhoff en Kestell,” sê Van der Merwe.
Van der Merwe skroom nie om sy persoonlike gunstelinge uit te sonder nie.

“Definitief Deneysville in die noorde, Memel in die ooste, Philippolis in die weste en Rouxville is ’n besondere gunsteling.” Die mooiste gastehuis glo Van der Merwe is in Tweeling wat ’n “ou wolskuur was wat pragtig ingerig is” en die hotel in Marquard het hom veral beïndruk.

Van Stadensrus is nogal ’n aangename verrassing, vertel Van der Merwe. “By verre is daar geen dorp wat hierdie se gelyke is wat munisipale dienste betref nie.” Blykbaar gebruik die Vrystaatse premier Ace Magashule Van Stadensrus gereeld as ’n voorbeeld van uitstekende munisipale bestuur.  “Die slegste pad in ons Vrystaat,” vertel Van der Merwe, “is definitief die pad tussen Wepener en Zastron. Daarom beveel ek mense aan om grondpaaie te ry. Dié paaie is soveel beter en ’n mens sien die ongelooflikste goed!”

No posts to display