Christopher Motabogi
Skole-atletiek in die Vrystaat het ’n nuwe baadjie aangetrek met die onlangse aankondiging dat ’n Bloemfonteinse sportbaan opgeknap is en toekomstige byeenkomste nou in dié stad sal plaasvind. Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se sporthoof, Micky Gordon, het die nuwe atletiekbaan by die Vrystaat-stadion as ‘n “wêreldklas-fasiliteit” beskryf. Daar gaan byvoorbeeld drie van die groot byeenkomste op die atletiekkalender in Bloemfontein gehou word. “Dit (die byeenkomste) bring die nodige mense om te kom kuier en ons glo sport het ’n hoofrol om te speel in werkskepping en te verseker dat mense Bloemfontein besoek,” sê Gordon.
Volgens hom, is die nuwe atletiekbaan deur die Mangaung-metro-munisipaliteit opgeknap en is langs die Vrystaat-stadion. Dit was ook ’n inisiatief van dié munisipaliteit.
“Atletiek simboliseer een van die groot sportsoorte in Suid-Afrika. Atletiek was altyd hoog op die prioriteitslys in Bloemfontein en nou het ons dit weer terug waar dit hoort,” verduidelik Gordon. Voorsitter van Vrystaatse hoërskole-atletiek, Wimpie Lodewyk, sê hy is verheug oor die borgskappe wat die UV en ander rolspelers bygedra het tot die nuwe baan. “Ons sien natuurlik geweldig uit na die provinsiale en Suid-Afrikaanse Skole Kampioenskappe vir die höerskole, want daar is talle van ons atlete wat by daardie geleentheid dan nou 100 persent kan kwalifiseer vir die Wêreld Junior-kampioenskappe wat later dié jaar in Julie in die Oekraïne en ook in die buiteland sal plaasvind,” sê Lodewyk.
“Daar’s ’n geweldige uitdaging vir ons as bestuur om hierdie atlete van ons wat teenwoordigend van die Vrystaat is, op nasionale vlak te kry,” vertel hy. Hy sê dis jammer dat die nasionale sport en rekreasie departement nie meer skole-atletiek ondersteun soos vroeër nie. “Ons sit op hierdie stadium met ’n dilemma en uitdagings… maar ek glo met samewerking van ons ouers wat ongelooflik onderteunend is, ons strukture op plaaslike vlak, en ander rolspelers, dat daar mense is wat ons sal kontak en sê hulle is bereid om hierdie kinders geleenthede te gee,” sê Lodewyk. Die skole-atletiekstruktuur sluit in dorp-, sone- en distriksbyeenkomste wat na die moontlikheid om by provinsiale byeenkomste (waarby alle skole wat kwalifiseer het deelneem lei) en daarna die SA Skole Kampioenskappe.