Nul per kraan vir gestremdes

0
695
Rachel Davids en Natus van Niekerk van die Jean Webber-tehuis FOTO : PIERCE VAN HEERDEN

Die inwoners van Jean Webber-tehuis in Parkweg, Bloemfontein, is verlede week vir dae lank verontrief toe die tehuis se water deur die Mangaung-metro afgesny is. Dít ‘n dag nadat hulle wel hul waterrekening betaal het.

Die gestremde inwoners is baie afhanklik van skoon water. Natus van Niekerk, een van die inwoners wat by ontvangs werk, het aan Bloemfontein Courant vertel hoe moeilik dit vir hulle as gestremdes is wanneer soiets gebeur. Hulle is baie meer afhanklik van water as normale mense. Hulle moet daagliks gewas word en hul wonde moet skoon bly.

Daar was geen water van Woensdag tot Sondagoggend nie. Rachel Davids, een van die sorgmoeders, sê, “Ons sit met gestremde persone, pasiënte wat gewas moet word en moet kos kry. Hulle kan dit nie vir hulself doen nie. Ons moes water van ander plekke af kry, wat baie moeilik en ongerieflik was.”

Volgens haar word die gestremde inwoners normaalweg in ‘n bad of stort gewas, maar dit moes toe in die bed gebeur, wat dit uiters moelik gemaak het. Toilette was ‘n groot probleem, die hele situasie was ondraaglik, onhigiënies en onsmaaklik vir elke inwoner en ook die personeel. “Ons moes emmers gebruik om water aan te dra,” sê sy.

Volgens Davids het die munisipaliteit eenvoudig gesê die klag is aangemeld en hulle werk daaraan. Dit het vir dae so aangegaan. Mirinda Kruger, bedryfsbestuurder van Jean Webber, het vertel dat ‘n inwoner langs die tehuis gesien het hoe twee mans die kraan toegedraai en afgehaal het. Sy het die munisipaliteit gebel en wou weet wat die rede is dat die water afgesny is. Die antwoord van die munisipaliteit was elke keer dat Jean Webber se mense geduldig moet wees, hulle werk aan die saak.

Later het die munisipaliteit glo gesê die probleem het ontstaan weens ‘n pyp wat in Willows herstel moes word, maar dit was nie die rede waarom die tehuis se water afgesny is nie. Ten spyte daarvan dat Attie van der Merwe, rekenmeester van Jean Webber, verskeie bewyse aan die munisipaliteit gestuur het as bewys dat hul rekening betaal is, was die watertoevoer steeds af.

“Die munisipaliteit het gesé dat die rekening dalk op die afsnylys was en nooit afgehaal is nadat dit betaal is nie. Hulle het die Woensdag belowe dat dit deur die loop van die dag oopgedraai sou word. Dit het nie gebeur nie. Donderdag het ek weer gebel en is meegedeel dat hulle eers om 14:30 begin werk aan sulke gevalle.” Die water was eers Sondagoggend beskikbaar.

Volgens die woordvoerder van Mangaung-metro-munisipaliteit, Qondile Khedama, wys die stelsel dat Jean Webber se water nie ontkoppel is weens ‘n rekening wat nie betaal is nie. Volgens die munisipaliteit se rekords het Jean Webber-tehuis nie geld geskuld aan die munisipaliteit nie. Hulle vermoed dus dat daar ‘n ander rede vir die probleem was. – Heidre Malgas
heidre@Mahareng.co.za