‘Nul per kraan’ laat mense rooi sien

0
1507

Inwoners van Bloemfontein se suidelike woonbuurte is woedend vir die Mangaung-metro en Bloemwater nadat hulle vanaf Vrydag 18 Maart dae lank met droë krane gesit het. Pieter Delport het ‘n paar inwoners gepols oor hoe dit hul lewens ontwrig het en hoe hulle dit oorleef het.

Ruan van der Merwe van Fauna:

Ons het Saterdag net ‘n dun straaltjie water vir omtrent ‘n uur lank gehad. Daarna was die krane weer droog! Ons kon geen planne maak om water elders te kry nie, want al ons familielede se krane was ook droog. En boonop sit ons met ‘n kind wie se operasiewond gereeld skoongemaak moet word, maar ons kon nie. Op Menseregtedag het ons nie eers toegang tot ‘n basiese ding soos water gehad nie. Ek is plein keelvol vir die regering van vandag.

Helena Meyer van Fichardtpark:

Ons het vir een dag water gehad in Fichardtpark. Saterdagoggend is daar een van daardie niksseggende kennisgewings uitgestuur dat dieselfde pyp by die Welbedachtdam gebars het. Watter strooi word aangejaag dat dieselfde pyp weer bars? Kom ek vertel jou wat is die waarheid. Hierdie kennisgewings van die munisipaliteit en die DA is vals. Hierdie water sal eers aangesluit word wanneer die munisipaliteit Bloemwater betaal. Nie voor die tyd nie.

Mirriam de Wee van Fleurdal:

Ons het vanaf Vrydagoggend 18 Maart geen water gehad nie. Ons was baie verontrief en kon skaars die basiese daaglikse takies verrig waarvoor mens water nodig het. En om dit alles te kroon, was daar nêrens waterwaens beskikbaar waar ons water kon gaan kry nie. Ons moes maar self plan sien. Ons het twee kinders ook wat geaffekteer is – veral ons baba wat nog melk drink. Ons het water nodig om vir haar formulemelk mee te maak. Ons voel eerlik ontneem van ons basiese menseregte.

Gerhard Botha van Gardeniapark:

Vandag se lewe moet mens alles jouself doen. Jy moet jou eie krag en water hê. Jy moet ook jou eie water suiwer. Ek het vir my tenks opgesit met ‘n watersisteem wat die water suiwer voordat dit in die huis inkom. So as dit gebeur dat die water opraak, sit ek hier met ‘n tenk van 3500 liter water. Dieselfde met die krag; as die krag afgaan skop die opwekker in. Ons gaan dus normaal aan. Ander mense is egter nie so gelukkig nie. En dan stoot die supermarkte nog die prys van gebottelde water op.

Pieter Delport

pieterd@mahareng.co.za