Warm Winter, ’n nuwe orkes in Bloemfontein, gaan Vrydag 3 Mei op Aasvoël Klub se verhoog “Die Nostalgie” aanbied.
Dié vertoning is die tweede optrede, waartydens die orkes nostalgiese Afrikaanse musiek terugbring uit die verlede.
“Die eerste vertoning was ’n reuse sukses,” vertel Corné Cloete. Volgens die groep se sanger, ukulele- en kitaarspeler, was kaartjies vir hul eerste optrede uitverkoop.
Warm Winter het in Desember 2023 tot stand gekom en bestaan uit verskeie plaaslike musikante, insluitend Cloete. Saam met haar vorm sangeres Winay Els, ukulele- en kazoospeler Lizelle Pietersen, klawerbordspeler Craig Booth, asook Pierre du Toit op baskitaar, en tromspeler Tiaan Kussman, die res van die orkes.
Tydens die tweede “Die Nostalgie” vertoning gaan kitaarspeler Nico Geldenhuys ook saam met Warm Winter op die verhoog wees.
“‘Die Nostalgie’ is ’n terugblik na van die bekendste Afrikaanse sangers se musiek, vanaf die 1970’s tot die 1990’s,” het Cloete vertel.
Van die bekende Suid-Afrikaanse musikante wie se musiek gespeel gaan word, sluit Bles Bridges, Anneli van Rooyen en Glenys Lynn in.
Kaartjies vir die tweede optrede van “Die Nostalgie” is beskikbaar by Quicket.co.za teen R130 per persoon, of teen R110 per persoon vir groepbesprekings van tien of meer by 083-456-7891.
Warren Hawkins