Nostalgies oor Woodstock

0
124

Nostalgie kan ‘n vorm van depressie word. Dit lees ek iewers in ‘n artikel oor Woodstock, daardie kultusfees wat vanjaar ‘n halfeeu gelede die wêreld van rockmusiek geskud het.
Vir talle mense bly Woodstock die kulminasie van die 1960’s en die magiese hoogtepunt wat die Baby Boomers se lewens gedefinieer het.
Daar is heelwat minder bekende feite oor Woodstock. Het jy geweet dat iemand soos Santana net $750 betaal is vir sy optrede? Joe Cocker het $1375 verdien. Die Grateful Dead het darem $2500 gekry, wat hulle tussen die ses lede moes verdeel! Crosby, Stills, Nash and Young het ‘n allemintige $5,000 ontvang. Die ironie is dat talle kunstenaars wat in 1969 hul neuse vir Woodstock opgetrek het, terugskouend groot geld sou betáál om net op daardie verhoog te kon wees.
Een van die mooiste Woodstock-stories gaan oor die destyds redelik onbekende Richie Havens. Hy was geskeduleer om eers in die vroeë oggendure op te tree, maar met die reuse-verkeersknope op al die roetes na die feesterrein toe, was verskeie kunstenaars laat. En die organiseerders trek inderhaas vir Havens nader om die fees te open.
Om 17:15 op daardie gedenkwaardige Vrydagmiddag,15 Augustus 1969, verander sy lewe onherroeplik. Daar, op die verhoog, voor 400,000 juigende feesgangers, improviseer hy.
Hy dink woorde uit tussen sy kitaardrukke deur. “When you hear me play that long intro, it’s me stalling,” het hy na die tyd vertel. “I was thinking, ‘What the hell am I going to sing?'”
Die liedjie Freedom, losweg gebaseer op ‘n ou, tradisionele geestelike melodie, word op die verhoog gebore en word sy grootste treffer. Hy moes na die tyd na ‘n opname van sy optrede gaan luister om die woorde neer te skryf.
Woodstock gaan vanjaar wêreldwyd herdenk word. As jy, soos ek, in Augustus daardie dokumentêre film, WoodstocK – 3 Days of Peace & Music (wat in 1970 ‘n Oscar gewen het) in die DVD-speler sit, onthou ook vir Richie Havens.
Sy as is na sy dood in 2013 op die Woodstock-terrein, reg daar waar die verhoog gestaan het, gestrooi. – Albé Grobbelaar