In ‘n aftree oord beleef twee wêreldbekende vermaaklikheidskunstenaars die mooi van vervloeë dae in herinnering. Dis konserttyd by Huis Silwerjare en almal is in rep en roer om alles reg te kry vir die verhoog. Arina de Witt (Aria Von Waltzleben, alias Fanny Galore) boorling van Ariamsvlei, ster van die sestigerjare in Las Vegas, ‘n “geesgenoot” van Maria Callas en Edith Piaf. Hennie Smit (Egbertus Wolmarans) boorling van die Swartland, onderwyser van Ariamsvlei, beroemde vermaaklikheidster en akteur wie se hartsnare nog al die jare roer vir Aria. Huis Silwerjare se konsert kan nie sonder Aria en Egbertus gebeur nie.
In hierdie wonderlike produksie span Hennie Smit en Arina de Witt kragte saam om As Drome Vlerke Kry aan te bied. Die produksies word aangebied met die troste ondersteuning van Christo Strydom Nutrition, Stuttaford van Lines, RSG, Sounds Good en McCarthy Volkswagen Arcadia.
Bekende akteur en verhoogpersoonlikheid, Hennie Smit, gee as Egbertus Wolmarans ‘n komiese en nostalgiese blik op die lewenskonsert van oues van dae waar werklikheid vervaag en latente talent en gebore vermaaklikheidsterre se verslawing aan applous, sorg vir die konsert van ‘n leeftyd. Hennie is geen onbekende in die verhoog- en vermaaklikheidswèreld nie. Hy het Drama studeer aan die Goudstad Onderwyskollege en het tydens sy studies in die destydse Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste se operakore gesing. Hy speel verskeie rolle in radioproduksies vir Springbok Radio en die SAUK. Hennie het sy debuut gemaak in die rolprent Pretoria, o Pretoria! in 1979, en het daarna in 33 ander filmrolle verskyn, waarvan ses internasionaal was. Hennie was vir byne 20 jaar te sien in die rol van Bertie is die sepie Egoli – Plek van Goud en was in 2014 te sien in die rol van Dêda, in Lefra Produksies se trefferklug, My Boetie se Sussie se Ou.
Die bekende sangeres en aktrise, Arina de Witt, vertolk die rol van Aria Von Waltzleben, later natuurlik bekend as Fanny Galore. De Witt sing bekende liedere van Piaf, Callas, Mouskouri, Garland en selfs n paar oorspronklike Afrikaanse juwele. Arina het haar verhoogdebuut gemaak op vyfjarige ouderdom en neem gedurende haar skoolloopbaan aan verskeie verhoogproduksie deel. Daarna volg dramastudies aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy ook sangonderrig ontvang van Professor George van der Spuy. Arina woon daarna vir ‘n paar jaar in Namibië waar sy bekendheid verwerf het met verskeie televisie en Swaruk-musiek en dramaproduksies. Sy maak haar SA televisie buiging in Spies en Plessis met haar en Jan Spies se liedjie Rietjiesfluit. Arina se debuut CD word in 1992 vrygestel en sluit onder andere Wals van die Somer en Skatkis vol Drome in. Haar wye stemomvang, veelsydigheid in verskillende genres en tydlose repertoire in verskeie tale, bly haar unieke stempel.
Regisseur Frans Swart is baie opgewonde oor die produksie. “Hierdie stuk is spesiaal vir Hennie en Arina geskryf”, sê Frans. “Dit is ‘n roerende toneel van oud-word en steeds jou rol in die lewe te speel. Ek is bevoorreg om met twee van die mees talentvolle akteurs en sangers in Suid-Afrika te werk. Hennie is ‘n ikoon in Suid-Afrika en Arina is ‘n aktrise van formaat, maar ook een van SA se top soprane. Saam vorm hulle ‘n ongelooflike span. Die storie is uniek en met soveel talent op die verhoog, is ek baie opgewonde dat hierdie beslis een van die groot treffers van 2016 sal wees.”
“Hierdie vertel-en- musiekteater los jou met ‘n lag en ‘n traan en die besef dat jy is, wie jy gebore is om te wees, wanneer jou “drome vlerke kry”, sê Swart. As Drome Vlerke Kry is ‘n nostalgiese reis en beslis ‘n moet op almal se kalender!
As Drome Vlerke Kry is op Donderdag, 27 Oktober 2016 om 20:00 in die Andrè Huguenet-teater in Bloemfontein op die planke.
Besprekings kan gedoen word by Pacofs by (051) 447-7772 of by Crazy Daisy Preller Plein. Groepe van meer as tien: (011) 815-3000. As jy As Drome Vlerke Kry vir jou dorp of stad wil bespreek, skakel Lefra Produksie by (011) 815-3000 of stuur ‘n e-pos aan admin@lefra.com