Duane Petrus – Die Noordwes polisie ondersoek ‘n plaasaanval nadat ‘n boer van Zeerust gisteraand in die gesig geskiet is deur verdagtes op sy plaas.
Polisiewoordvoerder, Kealeboga Molale, sê die 76-jarige Faan van der Merwe, word in ‘n hospitaal in Rustenburg behandel.
Van der Merwe het na bewering probeer sy huis ingaan toe die verdagtes hom van binne die huis af geskiet het.
Hulle het toegang na die huis deur ‘n sifdeur gekry.
Molale sê die slagoffer kon nie uitmaak hoeveel verdagtes tydens die voorval in sy huis was nie.
Sy sê die beseerde boer het daarin geslaag om na ‘n plaaslike dokter te bestuur na die voorval.
Die polisie kon nie bevestig wat die verdagtes gesteel het nie, en ondersoek ‘n saak van poging tot moord, ‘n plaasaanval en inbraak.