Nog sukses vir skrywer Jaco Jacobs

0
472
Jaco Jacobs

Die kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, hou aan om pryse by sy lys van toekennings te voeg. Nie net is sy bekroonde jeugroman, ‘n Goeie dag vir boomklim, pas benoem vir Brittanje se Carnegie-medalje nie, maar het LAPA Uitgewers gister in ‘n persverklaring bekend gemaak dat twee van sy boeke Dinsdagaand bekroon is by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings, beter bekend onder die Engelse akroniem SALA.

In die splinternuwe kategorie vir kinderboeke is sy kinderrympiebundel, Moenie hierdie boek eet nie!, en die prenteboek Daar’s nie ‘n krokodil in hierdie boek nie, bekroon. 2018 was ‘n groot jaar vir Jacobs. Hy het reeds vanjaar die Tienie Holloway-medalje (vir sy boek Grom!) en twee ATKV-Kinderboektoekennings gewen.

‘n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van ‘n gefrusteerde middelkind wat hom een vakansie laat ompraat om saam met ‘n meisie in ‘n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag. Hierdie boek is in 2016 as wenner van die kykNet/Rapport-prys se filmkategorie aangewys en het ook die internasionale In Other Words-vertaalprojek gewen.

Jacobs het aan Bloemfontein Courant gesê die Carnegie-medalje word wyd beskou as een van die oudste en mees gesogte kinderboek-toekennings. “Ek is baie opgewonde om my boek te sien op vanjaar se lys van genomineerde titels. Dit is iets wat ek nooit gedink het moontlik is nie, selfs nie in my wildste drome nie.”

Jacobs vertel dat hy op die oomblik werk aan ‘n nuwe kinderboek wat volgende jaar uitgereik sal word. “Ek het ook onlangs ‘n beste versameling kindergedigte, Op my planeet, sowel as ‘n nuwe prentjieboek, Die dag toe Ernst ‘n ertjie geëet het, vrygestel.

“Italiaanse taalregte op my boek, ‘n Goeie dag vir boomklim, is onlangs verkoop, en ek kan nie wag om die Italiaanse uitgawe te sien nie. Op die vraag oor wat hy vir die toekoms beplan, het Jacobs gesê, “Daar is ‘n paar opwindende nuwe boeke op my publikasieskedule vir volgende jaar.”

Jacobs skryf al van ouderom 7 af en het sy eerste kortverhaal aan ‘n tydskrif verkoop toe hy nog op hoërskool was. Vandag het die talentvolle skrywer reeds meer as 130 kinderboeke gepubliseer.

En vir diegene wat nie weet nie, moenie verbaas wees om Jacobs, wat ook langafstand hardloop, hierdie naweek aan die OFM Music Marathon die 42,2 km te sien deelneem nie. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za