MARICELLE BOTHA
Talle Courant-lesers het verlede week reageer op die berig oor die Bloemfonteinse vrou wat die slagoffer van ’n landwye slenter was waar booswigte hulle voordoen as Microsoft-tegnikusse.
A.W., ’n inwoner van ’n "suidelike voorstad" skryf in ’n e-pos aan Courant dat hy/ sy ook deur die booswigte genader is.
"Hulle skakel altyd op jou huisfoon en kom met baie liegstories. Ek sukkel al ’n jaar lank om my rekenaar reg te kry, met baie geld reeds gemors. My rekenaar was splinternuut. Ek het ’n kontrak met ’n firma aangegaan en vermoed die inligting kom van dié mense. Ons ken ook ander mense met wie dit gebeur het en wat ook by dié firma ’n internetkontrak aangekoop het." A.W. het die e-pos van ’n vriendin se rekenaar gestuur omdat syne/hare "nog kreupel is".
’n Bejaarde vrou van Uitsig vertel dat sy koue rillings gekry het toe sy die berig in die koerant lees. "Omdat ek nie ’n rekenaar of ’n tablet besit nie, het ek my nie gesteur aan die vreemde oproep van Microsoft wat ek ontvang het nie, maar toe ek die berig lees het ek besef dat dit presies is wat met my gebeur het." Sy vertel dat sy dit nogal vreemd gevind het dat die persoon haar op haar landlyn gekontak het. "Ek het verduidelik dat ons geen rekenaars het nie, en die persoon het die foon dadelik neergesit. Ek het ook die geraas in die agtergrond gehoor, dit het byna na ’n oproepsentrum geklink." Sy se dat sy baie gelukkig is dat sy nie onder die slenter deurgeloop het nie.
Ook ander lesers het die publiek op sosiale netwerke teen hierdie slenter gewaarsku. Ann van Dan Pienaar sê dat sy ’n soortgelyke ervaring gehad het en dat sy self ook al van talle ander gehoor het met wie dit gebeur het. "Die beller is baie oortuigend en ’n mens glo later dat die oproep werklik van Microsoft is."
My rekenaar gee steeds probleme nadat dit al ses dae lank op twee verskillende geleenthede by ’n rekenaartegnikus was. Ek hoop werklik die spul word sommer gou gevang," sê sy.
*Lesers se identiteit word beskerm omdat hulle reeds blootgestel voel.