Nog nuwe aanwinste vir die Cheetahs

0
296
Die Toyota Cheetahs-skrumskakel, Tian Meyer, op pad doellyn toe vir een van sy vier drieë. FOTO: MORGAN PIEK

The Toyota Cheetahs het Saterdag weer op die wenpad geklim met ‘n 74–7-oorwinning oor die OP Oliphante tydens die Curriebeker-oefenwedstryd op die Toyota-stadion in Bloemfontein.

Die skrumskakel, Tian Meyer, wat tydens die wedstryd in die vleuelposisie gespeel het, het vier keer vir die tuisspan oor die doellyn gaan kuier. Die vleuel, Duncan Saal, het op sy beurt uiteindelik sy waarde getoon met ‘n driekuns van drieë.

Andisa Ntsila, Aidon Davis, Cohen Jasper, Dian Badenhorst en Howard Mnisi het die Cheetahs se ander drieë gedruk, terwyl Reinhardt Fortuin drie doelskoppe deur die pale gejaag het, en Brandon Thomson met vier geslaag het.

Die Oliphante se drie is deur Hannes Huisaman gedruk, met Luvo Claasen wat die ekstra twee punte bygevoeg het.

Die slegte nuus vir die Oliphante is dat elf van hul spelers, asook die afrigter, Peter de Villers, ná die reis na Bloemfontein positief getoets het vir Covid-19.

Intussen het die Cheetahs dié week hul span vir die Curriebeker versterk met drie opwindende spelers wat ‘n groot aanwins is vir die span en wat hul stem voorheen dikgemaak het in die Varsitybeker-reeks.

Die Universiteit van Stellenbosch Maties se senter en kaptein, David Brits, is tot en met die einde van Oktober aanstaande jaar vir die Cheetahs gekontrakteer. Die Universiteit van Wes-Kaapland se skrumskakel, Branden de Kock, het op sy beurt tot aan die einde van Mei volgende jaar by die span geteken. Die Universiteit van Kaapstad Ileys se senter, Evardi Boshoff, sal ook die Cheetahs-trui dra aangesien hy ‘n korttermynkontrak tot aan die einde van September het.

Boshoff het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy daarna uitsien om as ‘n speler te groei by die Cheetahs.

“Vir my is dit ‘n goeie geleentheid om na die Cheetahs te kom om my vaardighede ten toon te stel, te verbeter en net ‘n beter rugbyspeler te word. Hulle speel ‘n opwindende tipe rugby wat my sal pas en my as speler verder sal ontwikkel.

“Ek sien uit daarna om ervaring te kry deur om met ouens soos Clayton Blommetjies, Howard Mnisi en hopelik Frans Steyn te speel, wanneer hy terugkom.”

Die Cheetahs speel Vrydag in Pretoria in nog ‘n oefenwedsryd teen die Poemas. – MORGAN PIEK