CHRISTOPHER MOTABOGI
Die hofsitting van verdagtes wat by die gru-moord van ‘n Bethulie egpaar betrek word, is vanoggend vertrag omdat ‘n landdros van Bloemfontein na dié dorp se hof moes reis.
‘n Sesde verdagte is laat gister in hegtenis geneem in verband met die naweek se moord op Gordon en Lorraine Adam op Bethulie.
Polisiewoordvoerder, Malesela Langa, sê al ses verdagtes gaan eers later vandag in die Bethulie landdroshof verskyn.
Die Adams-egpaar is in hul huis op die dorp aangeval en vermoor.
Vyf verdagtes is oorspronklik gearresteer en het Woensdag die polisie na ‘n plek buite Edenburg geneem waar ‘n vuurwapen, ‘n identiteitsdokument en ‘n vuurwapenlisensie, wat aan die oorledenes behoort, gevind is.
Langa sê die man wat gister aangekeer is, is dieselfde man wat ook die polisie met hul ondersoek na die moord gehelp het.