Nog ‘n top-tien vir Wilco

0
185
Wilco Nienaber tydens die 2020-Dimension Data PRO/AM by Fancourt in George FOTO: EJ LANGNER/ SONSKYNREEKS

Die Bloemfonteinse tiener, Wilco Nienaber, is volgens die amptelike wêreld-gholfranglys vir die eerste keer in sy loopbaan onder die voorste 300 gholfspelers ter wêreld.

Dit kom nadat die 20-jarige speler vir die tweede keer in net minder as ‘n maand onder die voorste tien spelers geëindig het tydens ‘n toernooi op die Europese toer.

Nienaber het Sondag by die Andalusië Meesters in die gesamentelike sesde posisie geëindig by die ikoniese en biter moeilike Valderrama in Spanje.

Nienaber se vertoning het daartoe gelei dat hy 64 plekke op die wêreldranglys na 292ste gespring het. Boonop het Nienaber, wat uit die Bloemfontein-gholfklub speel, net minder as R750 000 in die sak gesteek vir sy skitterspel.

Nienaber het aan Bloemfontein Courant gesê hy hoop vir nog ‘n goeie week, hierdie keer tydens die Portugal Meesters.

“Ek het Valderrama baie mooi gevind, maar dit was regtig ‘n baie moeilike baan.

“Soos almal kan sien, met die tellings was dit moeilik, maar ek is gelukkig met my vertoning. As ‘n speler wil jy graag wen, maar nog ‘n top-tien is glad nie sleg nie.

“Wat die Portugal Meesters betref, ek het nog nie op hierdie baan gespeel nie, maar baie mense het vir my gesê dat dit my spel baie goed sal pas.

“Ek wil net nog ‘n goeie week hê. My spel voel vir my op die oomblik regtig goed, so ek sal sien wat hierdie week inhou. ”

Die Portugal Meesters by die Dom Pedro Victoria-gholfbaan begin Donderdagoggend. – MORGAN PIEK