Christal-Lize Muller en Refilwe Mekoa
Die departement van gesondheid in die Vrystaat het bevestig dat een van twee interniste wat spesialiseer in kardiologie by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein uit sy pos bedank het.
Regeringswoordvoerder, Mondli Mvambi, het by navraag gesê Wilhelm Herbst het sy bedanking weens persoonlike redes ingedien.
Sy bedanking is deur die departement aanvaar.
Mvambi het Herbst voorspoed met die toekoms toegewens. Bloemfontein Courant het verlede week berig dat die LUR, van gesondheid, Benny Malakoane, in die wetgewer ‘n rooskleurige prentjie oor die hospitaal geskets het, terwyl werknemers glo ongelukkig is oor beweerde bestuursprobleme op die hoogste vlak.
Bloemfontein Courant het ook verneem dat bykans tien ontervrede mediese spesialiste in verskeie departemente al uit hul pos bedank het.
Malakoane het na die aanstelling van die hospitaal se nuwe hoof, Makoali Makoto, wat deur Herbst en Kgomotso Moroka bygestaan sal word verwys.
Herbst wou verlede week nie kommentaar lewer nie.