Nog ‘n goeie jaar in die saal vir Chante

0
267
Chanté Olivier van Bloemfontein het in 2019 weer haar stem dik gemaak en is sonder twyfel 'n blink ster vir die toekoms. FOTO: MORGAN PIEK

Die jong fietsryer van Bloemfontein, Chanté Olivier, het in 2019 nog ‘n goeie jaar in die saal beleef, nadat sy nie minder nie as 11 Suid-Afrikaanse titels ingepalm het.

Dié leerder aan die Hoërskool Sentraal het oudergewoonte met pad- en sowel as die bergfiets beïndruk, terwyl sy op die baan ook haar stem dik gemaak het.

Op die 2019-Suid-Afrikaanse baanfietsry-kampioenskap by die Bellville Veldodrome in die Kaap het Olivier sewe goue medaljes vir meisies o.17 ingeoes. Sy het geen gelyke gehad nie in die 1500-m-naelrit, enkelagtervolgingswedren, span-naelrit, die 4-km-rit, die tydtoets, puntewedren en “match sprint”.

In Durban het sy die nasionale titels vir meisies o.17 verower op die Sudi-Afrikaanse padfietskampioenskap. Sy het die padwedren sowel as die pad-tydtoets gewen.
Sy wen ook die XCO-bergfietsreeks by Thaba Trails en die XCM9-titel by Buffelsdrift.

Olivier het ook die speke oorsee laat sing toe sy deelgeneem het aan die Europese Junior fietstoer in Assen, Nederland. Deelnemers van 28 lande het ingeskryf vir dié toer. Sy het met die 6-dag-toer van 29 Julie tot 4 Augustus twee derde plekke behaal en het algeheel derde in GC gekom. Verder was sy ok die wenner van die spesiale wit trui (punte).

Ná die Europese toer is sy ook genader deur die Nederlandse span, Wieler Zone, om vir hulle in die 2020-seisoen te ry ná haar goeie uitslae in die toer die afgelope twee jaar.

Op provinsiale vlak het Olivier op die gewilde Spur-bergfietsreeks die Vrystaat-been asook die finale reeks gewen. Haar prestasies het daartoe gelei daar sy by die Vrystaatspan ingesluit is wat in Brits aan die nasionale eindreeks deelgeneem het. – MORGAN PIEK