Nog geen antwoorde vir identiteitbedrog-slagoffer

0
261
André Jacobs

‘n Inwoner van Bloemfontein het alle hoop laat vaar nadat hy drie maande sedert hy in hegtenis geneem is, steeds sukkel om antwoorde te kry. Hy is nou al raadop met die betrokke departement wat nie die saak vir hom kan uitklaar nie.

André Jacobs is op 9 Desember verlede jaar in hegtenis geneem toe hy op pad na sy bestemming by ‘n padblokkade in die stad gestop is. Hy is ingelig deur verkeersbeamptes dat hy uitstaande boetes het. Toe die beamptes egter aan hom die kaartjie wys, het hy besef dat die besonderhede op die kaartjie wel syne was, maar dat die registrasienommer van sy motor en die op die kaartjie verskil. Jacobs vertel ook dat die voertuig op die kaartjie ‘n bakkie was en dat hy nog nooit ‘n bakkie van daardie beskrywing in sy lewe besit het nie. Hy was toe vir ‘n uur in die tronk, en toe hy die volgende dag probeer uitvind wat aangaan, was niemand by die departement seker hoe soiets kon gebeur het nie.

Jacobs het aan Bloemfontein Courant vertel dat die die enigste antwoord wat hy tot dusver gekry het, is dat daar niks aan die saak gedoen kan word nie, omdat hy reeds die boete betaal het. Hy was verplig om in daardie staduim die boete R1 100 te betaal om uit die tronk uit te kom. “Al wat ek weet, is dat die man van Burgersdorp in die Oos-Kaap is en dat die verkeerseenheid weet wat sy naam is. Hulle het aan my gesê dat die saak nou by die polisie se bedrogeenheid is en dat hulle besig is met ‘n ondersoek.”

Bloemfontein Courant het navraag gedoen by die Verkeer- en Wetstoepassingeenheid, wat ons na die woordvoerder van Manguang-munisipaliteit, Qondile Khedema, verwys het, aangesien hy dan die navraag na die relevante verkeersdepartement sou stuur. Dit is gedoen, maar Bloemfontein Courant wag steeds op ‘n antwoord.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za