Nobelpryswenner inspireer by Kovsies

0
4432

Lani Fouché

Vir Nadine Gordimer, ‘n Nobelpryswenner en een van die land se grootste veggeeste teen Apartheid, het Bloemfontein ‘n spesiale plekkie in haar hart. Sy het verlede week die eerste van ‘n reeks jaarlikse versoeningslesings by die Universiteit van die Vrystaat gelewer, waar sy haar spesiale herinneringe van Bloemfontein met Courant gedeel het.

“Ek was in 1954 laas in Bloemfontein, en dis nou my tweede keer!” Sy vertel dat sy ‘n dag na haar troue saam met haar man, Reinhold Cassirer, in Bloemfontein was kort voor hul vertrek na Europa. Sy was 29 jaar oud, en was nog nooit vantevore oorsee nie. “My man wou Europa vir my gaan wys. Sjoe, dis so lank terug!” Sy vertel dat hulle ‘n joernalis van die destydse dagblad ‘The Friend’ in Bloemfontein ontmoet het. Daardie kort besoek aan Bloemfontein dra sy nog in haar skatkis van herinneringe rond, wat nou oorloop van haar wêreldreise en haar jarelange stryd teen onderdrukking.

Gordimer het in 1991 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang. Haar jongste boek, No Time like the Present, is in Maart vanjaar gepubliseer. Haar skrywe oor die jare het hoofsaaklik gefokus op morele- en rassekwessies tydens apartheid. Boeke soos July’s People is destyds in Suid-Afrika verban. Sy het aktief aan die anti-Apartheidsbeweging deelgeneem en was tot onlangs aktief betrokke in die stryd teen MIV/Vigs.

Rasserversoening begin reeds by laerskoolonderwys, sê Gordimer. “’n Land se jeug is sy toekoms. Dit beteken dat die verantwoordelikheid by julle lê,” het sy aan Kovsie-studente gesê.

“Onderrig kom nie net uit handboeke, proefbuise of die teorieë wat ons uit die verlede oorgeërf het nie. Algemene kennis is ‘n kennis van wat tans aan die gebeur is, in jóú leeftyd, en die reg om te leef en ontwikkel in die vryheid van ons land waarvoor duisende hul lewens gegee het.” Sy het ook die belangrikheid van lees benadruk. “Onderrig word nooit voltooi in tersiêre inrigtings nie. Om te lees is die onderrigproses wat deur jou lewe moet voortduur.”

Sy het die UV geloof vir sy aandeel in pad tot versoening, veral onder jongmense. Sy verwys na die verlede as ‘n ander land waar dinge anders gedoen word. “Hierdie universiteit maak gebruik van daardie verlede deur dinge anders in Suid-Afrika te doen as wat in daardie ‘ander land’ gedoen is.”

Toe praat sy spesifiek met die student: “Binne-in die vryheid van hierdie universiteit, is julle tans by die wegspringpunt van die reis. Julle moet die hoofweë open na ‘n tyd in julle bestaan wat die beloofde ‘beter lewe vir almal’ weerspieël.”

Sy sê vir haar is dit meer as net ‘n voorreg om op uitnodiging by die UV te kom praat. “Dit strek vir my baie verder as dit. Om self die geleentheid te hê om die inisiatief te aanskou wat teen alle waarskynlikhede deur een man, Jonathan Jansen, op die been gebring is, en met hom deur julle uitgevoer word.” Sy sê vir haar is die Universiteit van die Vrystaat ‘n versinnebeeld van ‘n antwoord op die vraag: ‘Maar wag kan ek doen?’ “Kom kyk wat hier gedoen word.”