Night of the Champions 4 tref Bloem in Maart

0
1699

Die vierde Night of the Champions (NOTC4) gemengde gevegskuns-toernooi (MMA) sal die eerste Saterdag in Maart in die Tempe Binnehuissentrum die sportsoort se Bloemfonteinse aanhangers bederf met meer as tien top amateurgevegte.
Courant het die week gesels met een van die stad se bobaas-bakleiers wat by NOTC4 die agtkantige hok sal binnegaan.
Eduan Homsek (1.92m, 104kg – Swaargewig) is ’n bemarkingsagent vir Homsek Distribution in Bloemfontein en sy amateur gevegsrekord is tans 2-1 (wen-verloor). Homsek sal met NOTC4 teen Jaco Smith, ook van Bloemfontein, te staan kom.
Homsek is ’n skopbokser wat eerder sal fokus op ’n staande geveg, maar as die vegters op die grond beland, sal hy op sy ervaring as Suid-Afrikaanse amateurstoeier kan staatmaak.
Aanvanklik was Homsek se belangstelling in MMA geprikkel deur die kondisionering en fiksheid wat van deelnemers verwag word. Hy het by Henk van Wyk se StreetFit Fighting klub begin oefen. Sy doel was slegs om fiks te raak vir rugby, maar hy het egter begin uitblink in MMA.
“Ek het dit begin geniet en daarom net aangehou daarmee,” vertel hy.
Homsek meen ook MMA is nie net ’n bloedsport nie, maar ’n kuns en vorm die grondslag vir skoon sportsbakleiery.
“Mense hou daarvan om na ’n bakleiery te kyk totdat dit lelik raak en dan nie verder nie. NOTC is waar jy jou man kan staan teen iemand en nie slegte gevoelens teenoor hom hoef te hê nie.”
Vir meer inligting oor die kaartjieverkope van NOTC4 kontak gerus die organiseerders by 083-612-8590.