Niemand nog vas weens Hertzogville-plaasaanval

0
Niemand nog vas weens Hertzogville-plaasaanval
Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met die aanval op ‘n bejaarde boer en sy vrou op hul plaas by Hertzogville in die Vrystaat nie.

Die 78-jarige Gideon, oftewel Giep Botha, en sy vrou, Petronella, is verlede Woensdagmiddag op hul plaas deur drie mans oorrompel, aangerand en beroof.

Polisiewoordvoerder, Ian Gaobepe, sê die egpaar het van die dorp teruggekeer waarná Petronella die huis in is. Haar man het buite rondgestap om te kyk of alles in orde is. Vrystaat Landbou (VL) se veiligheidskoördineerder vir die distrik, Hannes de Jager, sê die rowers het Botha by sy beeskraal oorrompel.

Hulle het beesmis in sy mond en keel gedruk en ‘n lap oor sy kop getrek. Petronella, wat intussen buite na haar man gaan soek het, is ook deur die booswigte oorrompel en vasgebind. Die egpaar is in die huis ingedwing. Die rowers het geld geëis. Hulle het aangedring dat Botha die kluis oopsluit. Hy het geweier, waarná hulle hom erg aangerand het. De Jager sê die rowers het die huis deurgegaan op soek na waardevolle besittings en het op ‘n slypmasjien afgekom. Hulle het dit gebruik om die kluis oop te sny.

Volgens De Jager is ‘n onbekende bedrag geld en ‘n 9mm-pistool gebuit.

Botha kon homself ná meer as drie uur loswikkel. Hy het sy skoondogter in Pretoria gebel en sy het mense op Hertzogville van die voorval ingelig. Die polisie is ontbied. Die distrik se veiligheidplan is onmiddellik in werking gestel. Paaie is afgesper. Met die polisie se aankoms op die toneel was Botha op die bed in hul slaapkamer, terwyl Petronella in die kombuis op ‘n stoel gesit het. Die rowers het vermoedelik te voet op die vlug geslaan. – Christal-Lize Muller

No posts to display