Nie te laat vir buitelandse blootstelling nie

0
691

Horace Terry

’n Paar weke gelede het ek die geskiedenis van die rand geskets en uit die syfers was dit duidelik dat die rand ’n geneigdheid het om veld te verloor teenoor die geldeenhede van ons grootste handelsvennote. Die laaste paar maande het ons gesien hoe vining die rand op die kort termyn sy waarde kan prysgee en hoe sensitief dit is ten opsigte van  onsekerheid. Inteendeel, die rand het in 2013 reeds 13% gedepresieer teenoor die VSA$ en met amper 18% teenoor die Japannese jen.

Wanneer die rand depresieer teenoor die geldeenhede van ons handelsvennote beteken dit inflasierisiko, wat beteken dat die geld wat jy op belegging het soveel meer beter opbrengste moet lewer om net te verseker jy verloor nie die koopkrag daarvan nie. Dit maak dus sin dat jy jouself verskans teen wat die waarde van die rand oor die langer termyn doen en jouself ’n gesonde vlak van blootstelling aan buitelandse markte op jou beleggingsportefeulje gee. As ek praat van beleggingsportefeulje sluit ek jou aftreevoorsiening hierby in. Natuurlik moet jou primêre doelwit nooit wees om die waarde van die rand te probeer “time” nie, want net soos met die aandeelmark, of enige ander mark, is dit nie moontlik om die rand se waarde in die toekoms te voorspel nie.

Jou primêre doelwit met buitelandse blootstelling op jou beleggingsportefeulje moet altyd geografiese diversifikasie wees. Geografiese diversifikasie maak dit vir jou as ’n Suid-Afrikaanse belegger moontlik om jou te verskans teen die gevare inherent aan Suid-Afrika. As ons tans kyk hoe die rand met tyd depresieer is dit wys om na die buiteland te diversifiseer, maar as ons kyk na hoe goed die waardasies op buitelandse bates (spesifiek aandele en eiendom) tans is, maak dit nog meer sin om buitelandse blootstelling te verkry, of te vergroot, indien jy dit nie reeds gedoen het nie. Moet egter nie blindelings net met jou geld buiteland toe hardloop nie.

Doen jou navorsing deeglik en kry ’n goeie verdeling blootstelling tussen opkomende markte en ontwikkelde markte. Stuur gerus vir my ’n e-pos na horace@jenwil.co.za vir ’n paar goeie opsies ten opsigte van buitelandse produkte.

* Terry is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en beleggingsadviseur by Jenwil Blouster.