Sommige mense dink aan ’n erediens as ’n musiekkonsert of ’n geleentheid om mense te vermaak. Daar is tog sekere dele van die erediens wat ooreenkom met so ’n konsert. Ons moet dit bywoon en ’n ’n geleentheid skep om dit by te woon. Ons is saam met ander mense in die diens wat ook in dieselfde geleentheid belangstel en ons aandag is gefokus op ’n spesifieke handeling voor in die gebou. Ten spyte van die ooreenkomste is daar tog verskille. Ons hoef nie ’n kaartjie te koop nie, daar is geen springmielies en koeldrank te koop nie en ons sit nie agteroor om vermaak te word nie. Die erediens is net wat die woord beteken: ’n diens tot eer van die Here. In Psalm 95:6 lees ek dat “ons in eerbetoon voor die Here moet neerbuig en voor Hom moet kniel!” Hierdie aanbidding gaan dus nie oor jou en my voorkeure nie. Dit gaan oor die Here, ons God en Vader. Die fokus moet op God wees. Ons is in die erediens om God te aanbid. Wat ’n voorreg? Ons mag dus nooit die middelpunt wees van die aanbiddingsoomblik nie. Daarom moet ons afsluit met die woorde: “Die Here is die Alfa en Omega, die begin en die einde” ook in jou en my lewe! Is dit waar van jou en my vandag?
Ds. Stephan van Heerden
* Van Heerden is ’n geestelike leier by die NG Klipkerk en ’n pastorale sielkundige
Date: