Nicro bekommerd oor gewoontemisdadigers

0
900

OWEN KOCK

Help om mense uit die tronke te hou en tronkvonnis moet as a laaste uitweg gesien word om die oortreder gerehabiliteer te hou. Dit is die pleidooi wat onlangs deur die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en Reïntegrasie van Oortreders (Nicro) aan gemeenskappe gerig is.
Nicro, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), verteenwoordigers van justisie en ander belanghebbendes het in Bloemfontein ’n werksessie gehou om na maniere te kyk hoe oortreders uit die tronke gehou kan word. “Maklik gaan dit nie wees nie, maar ’n poging moet aangewend word,” sê Regter Nathan Erasmus, wat ook op Nicro se raad van direkteure dien.
Hy het gesê ’n tronkvonnis moet as ’n laaste uitweg gesien word, want hy glo van die oortreders kan wel gerehabiliteer word en deel wees van ’n gesonde samelewing.

Tydens die werksessie was daar ook gerehabiliteerde oortreders wat hul stories met die paneel gedeel het. Dit was ooglopend dat Nicro ontsettende belangrike werk doen in die rehabilitasie van oortreders en inskakeling by die samelewing ná vonnisse uitgedien is. Die sukses van rehabilitasiepogings hang ook grootliks af van die oortreder, sy samewerking, gewilligheid en die oortreding af.
Van winkeldiefstal, motordiefstal tot seksmisdrywe en ander geweldsmisdade was bespreek. Dit is nou wel as voorbeeld gebruik, maar dit het die belangrikheid van ’n organisasie soos Nicro se werksaamhede uitgelig.
Volgens die Vrystaatse streeksbestuurder van Nicro, Marita van Kraayenburg, het hulle ’n moeilike taak. Die personeel kla nie, en die wat wel kla, se klagtes bly maar in die kantoor. Die min geld wat hulle verdien maak nie saak nie omdat hulle verbind is aan die organisasie en sy edele doelstellings om mense weer ’n kans in die lewe te gee.

“Baie moet gebeur, maar die belangrikste is dat ons die boodskap by gemeenskappe kry dat daar ’n organisasie soos Nicro is wat hulle wel bemoei met misdaad en die bekamping van misdaad en dat ons dit nie kan doen sonder die samewerking van die gemeenskap nie. Dit gaan vir ons oor die boodskap wat moet uitgaan en sê, kom ons het almal ’n verantwoordelikheid en kom ons maak die plek waar ons bly veiliger,” sê Van Kraayenburg aan Courant.
Regter Erasmus het op sy beurt gesê hy glo elke landsburger het ’n plig om te help dat misdaad bekamp word.
“Ons moet van binne ons samelewing ons deel doen om ons regering by te staan hoe dit ook al sy. Of die bystand nou kom van die SAPD, korrektiewe dienste, maatskaplike ontwikkeling of die departement van justisie of die wat ek nie genoem het nie, ons het almal ’n rol om te vervul,” sê Erasmus.