Nicolaisen loop wêreldrekord net-net mis

0
439
Die 17-jarige Arina Nicolaisen is hier op pad na 'n wêreldklastyd in die 1500 m tydens die Suid-Afrikaanse vereniging vir atlete met liggaamlike gestremdhede (SASAPD) se nasionale atletiekkampioenskap wat verlede naweek in die Rosestad beslis is. Hoewel sy 'n junior atleet is, het sy die wêreldrekord vir senior vroue in die gestremdheidklassifikasie T-38 met slegs 1,01 sekondes misgeloop. FOTO: CHARLES WHITEHEAD PHOTOGRAPY

Atlete van die Vrystaat het die naweek nie minder nie as vyf Suid-Afrikaanse rekords in die slag laat bly tydens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Atlete met Liggaamlike Gestremdhede (SASAPD) se nasionale atletiekkampioenskap wat in die Rosestad beslis is.

Die 17-jarige leerling van die Hoër Meisieskool Oranje, Arina Nicolaisen, het egter die kalklig gesteel onder die Vrystaters met ‘n wêreldklasvertoning in die 1500 m vir atlete in haar gestremdheidklassifikasie, T-38.

Nicolaisen, wat in die vroue onder 20-ouderdomsgroep in aksie was, het met die beste wedloop van haar jong loopbaan vorendag gekom deur dié wedloop in ‘n uitstekende tyd van 5:29,52 te wen. Die naweek was slegs die tweede SAkampioenskap waaraan Nicolaisen deelgeneem het en sy het haar beste tyd (5:40,90) in die genoemde 1500 m met ‘n reuse- 11,38-sekondes verbeter.

Haar wentyd het vriend en vyand verras, want Nicolaisen was slegs 1,01 sekondes stadiger as die wêreldrekord vir senior vroue in die T-38-klassifikasie en sy kan nog twee jaar in die onder 20-afdeling deelneem voordat sy amptelik ‘n senior atleet is.

Die wêreldrekord vir senior vroue is reeds 16 jaar gelede deur Maria Fernandes (Portugal) aangeteken nadat sy in 2001 ‘n tyd van 5:28,51 kafgedraf het. Fernandes was 32 jaar oud toe sy hierdie rekord agter haar naam geskryf het.

Nicolaisen het in die 800 m self ‘n wêreldklasvertoning opgedis. Sy het dié wedloop gewen in weer eens haar beste tyd nadat sy in 2:38,77 oor die eindstreep gehardloop het. En, dit was minder as drie sekondes stadiger as die einste Fernandes se wêreldrekord vir senior vroue van 2:35,90.

Einde aan Nicolaisen se uitmuntende vertonings was dit nog nie. Sy het in die 400 m die SA rekord (1:21,04) van Lesego Mahlakwane met bykans tien sekondes verpletter toe sy in ‘n kookwater 1:11,74 die eindstreep bereik het.

Nicolaisen se pa, Anton, is ‘n voormalige wêreld- junior rekordhouer in die 3000 m-hindernis vir atlete sonder liggaamlike gestremdhede en het sy Springbokleure in baan- en veldwedloop-atletiekdissiplines verwerf.

Die ander vier Suid-Afrikaanse rekords wat deur Vrystaters vermag is, het in veldnommers gekom. Lerato Mokhoana (onder 16) het in die spiesgooi in die F-34-afdeling die bestaande SA rekord (3:65 m) met ‘n gooi van bykans twee keer so ver na kleingeld laat lyk toe sy haar spies op ‘n afstand van 6,41m in die gras gepen het.

Elle Mahon (onder 16) het sy kant vir die provinsie in die gewigstoot gebring met ‘n SA rekord (F-46) van 7,10 m, dit teenoor die vorige rekord van 6,93 m.

Buhle Mhlauli (onder 20) het die nasionale rekord in die verspring (F-37) laat kantel met ‘n mooi poging van 3,73 m en die rekord met 40 sentimeter uit die rekordboeke gevee.
In die gewigstoot vir meisies onder 18 het Karabo Sesing korte mette gemaak van die bestaande SA rekord (5,41m) in die F-56-afdeling toe sy haar ysterbal 19 sentimeter verder (5,60 m) met die gras van die Mangaung-atletiekstadion laat kennis maak het. – RUFUS BOTHA