Nicky speel lag-lag saam by rugby

0
Nicky speel lag-lag saam by rugby
Grapjas Nicky van Niekerk

Jy het hom miskien tydens ‘n Cheetah-wedstryd halftyd op die grootskerm gesien of dalk raakgeloop in die gehoor, of jy ken hom reeds vir sy gewilde komiese uitsprake. Die 48-jarige Nicky van Niekerk het die Bloemfontein-komediebedryf op stormagtige wyse aangepak.

Van Niekerk, boorling van Middelburg, Mpumalanga, woon die afgelope twee jaar in die Rosestad en is besig om diep in Bloemfonteiners se hart te kruip met sy skreeusnaakse sê goed.

“Ek lag die lekkerste vir my eie grappe. Ek hou my verhale skoon en ek is stout, maar niks onder die belt nie,” sê hy. Die grapmaker spog ook met ‘n paar TV-produksies soos Net vir die grap, Skerp en Sou kon doen met ‘n miljoen.

Van Niekerk is ook die amptelike nie-amptelike spankommissaris van die Vrystaat-Cheetahs. “SA Rugby, saam met die borg, Direct Axis Finansiële Dienste, het met die puik inisiatief na vore gekom om ‘n komediant vir elke Curriebeker-span aan te stel.

My werk is om die ander span ‘af te kraak’ en hul kommissaris te braai vir die wedstryd op radio, TV en Facebook. Op wedstryddae doen ek onderhoude met die ondersteuners. Ek lig die span se gemoed en doen iets snaaks vir halftyd op die grootskerm,” vertel Van Niekerk.

Maak seker jy sien Van Niekerk by die volgende wedstryd, besoek sy Facebook-blad, of gaan kyk sy eenmanvertoning op 27 Augustus 2019 by CD’s.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za

No posts to display