New Beginnings benodig hulp vir die winter

0
574
In hierdie stadium is daar 45 honde en 15 katte by die organisasie.

Werknemers van New Beginnings in Bloemfontein het gister ‘n baie hartseerervaring gehad toe hulle vinnig by Christiana in die Nordwes moes uitkom. ‘n Hondjie (Jason), is by die stortingsterrein gelaat om te sterf nadat hy oor die kop geslaan is.

President en stigter van New Beginnings, Emain Fourie, het aan Bloemfontein Courant gesê dat hulle desperaat is vir die nodige fondse om brandstof- en veeartskoste te dek en ‘n beroep gedoen op die publiek om by die reddingsentrum betrokke te raak en geld te skenk sodat Jason en ander diere soos hy gehelp kan word.

President en stigter van New Beginnings, Emain Fourie.

New Beginnings is ‘n nie-winsgewende organisasie wat in 2013 in Bloemfontein gestig is. Die reddingsentrum wil graag ‘n verandering maak in die gemeenskap. In hierdie stadium is daar 45 honde en 15 katte by die organisasie. Daar is agt voltydse werknemers waarvan sewe voltyds in diens van die reddingsentrum is om die diere te versorg asook om dit higiënies, netjies en skoon te hou.Fourie vertel dat hul grootste uitdaging befondsing is. New Beginnings doen veldwerk op ‘n weeklikse basis en werk met gevalle van dieremishandeling en -verwaarlosing.

“Ons sorg ook vir meer as 60 diere by ons reddingsentrum en baie van hierdie diere is op medikasie, moet weekliks gedip word, of  moet die veearts ‘n paar keer besoek voordat hulle aangeneem kan word,”  het sy gesê. Fourie vra ook dat meer gesinne diere moet aanneem en sodoende dierelewens red.

Die winter hou meer uitdagings vir hulle in, veral in die gebiede waar hulle werk. Sy sê dat baie diere buite vasgemaak word vir veiligheid en hierdie diere is sonder enige vorm van beskerming teen die elemente. “New Beginnings verskaf hondehokke aan hierdie diere, maar dit is uiters duur en die behoefte is geweldig groot. Die publiek kan in die winter betrokke raak deur ‘n hondehok aan ‘n behoeftige dier te borg vir slegs R300.”

In die winter verdubbel die elektrisiteitsrekening by die sentrum, aangesien daar met warm water gewerk word en sommige van die diere soos die wat nie lang hare het nie, warm gehou moet word. Dit beteken meer uitdagings en meer hartseer gevalle.

Die publiek is ook meer as welkom om enige skenking by een van die afleweringspunte in Bloemfontein te laat. Honde- en katkos, komberse, nie-bederfbare kos, ens. Is altyd welkom. Die publiek kan ons plasings op Facebook deel, ‘n troeteldier uit ons skuiling neem en seker maak dat hul diere gesteriliseer word en so ‘n verskil maak.

New Beginnings het baie verskillende maniere waarop die gemeenskap betrokke kan raak. Om te sien hoe mense betrokke kan raak, besoek hul webtuiste by www.newbeginningscharity.co.za – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za