New Beginnings begin grasprojek vir pleegdiere

0
1030
New Beginnings het die publiek se hulp nodig om gras in hul honde kampe te plant. FOTO: VERSKAF

Wanneer laas het jou diere sonder gras oor die weg gekom? Seker nog nooit. Dit is ongelukkig die realiteit by New Beginnings, waar hul pleegdiere tans sonder gras, op harde grond, moet oorleef.

Emain Fourie, direkteur van New Beginnings, en haar span het dus met ’n projek begin om aan die diere vir wie hulle so lief is, gras te voorsien.

“Die gras projek wat ons by New Beginnings het, is ’n projek wat ons hierdie jaar graag wil klaarmaak, om gras in elke kamp by ons skuiling waar ons honde is te plant,” het sy vertel. Fourie het ook verduidelik dat hulle tans 11 kampe by hul diereskuiling het, waarvan slegs twee gras het.

Die doel van New Beginnings se grasprojek is om te “verseker dat die honde in die dag, terwyl hulle in die kampe is, ’n lekker oppervlak het om op te hardloop,” het Fourie verder vertel. “Ons weet ook dat gras baie goed is vir hul gesondheid,” het sy gesê, “ek het nog nooit ’n dier gesien wat nie gras geniet nie.”

New Beginnings hoop om die kampe so gemaklik en veilig as moontlik vir die honde te maak, terwyl hulle wag op hul permanente tuistes.

Fourie moedig die publiek aan om na New Beginnings se webwerf te gaan om betrokke te raak. “Mense kan ons webwerf (www.newbeginningscharity.co.za) gaan besoek, daar is verskillende maniere gelys hoe mense betrokke kan raak,” het sy verduidelik. New Beginnings is ’n liefdadigheidsorganisasie en maak staat op publieke ondersteuning, dus vra hulle nie net vir hulp van individue nie, maar ook van skole en besighede.

Gras of geld kan geskenk word aan New Beginnings en hul grasprojek, maar daar is vele ander maniere om ook betrokke te raak. “As elke persoon net hul klein deeltjie doen, gaan ons soveel meer kan doen,” het Fourie vertel.

Almal by die diereskuiling hoop om die projek so gou as moontlik af te handel, sodat die gras nog tydens Bloemfontein se reën-seisoen gevestig kan word, en lank voor die winter al vir hul honde sag onder die pote sal wees.

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za