Nersa openbare verhoor skop in BFN af

0
641

MARINÉ JACOBS

Die Mangaung openbare verhoor rakende Eskom se voorgestelde prysverhogings het pas in Bloemfontein afgeskop.  Eskom se divisie-amptenaar vir regulasie- en wetlike aangeleenthede, Muhammed Adam, verduidelik dat die nasionale energiereguleerder, Nersa, openbare verhore dwarsoor die land moet hou voor Eskom se prysverhogingsaansoek goedgekeur kan word.

Eskom het aansoek gedoen vir ‘n verhoging van 16% per jaar vir die volgende vyf jaar. “Eskom moet sy elektrisiteitsprys opstoot om die koste van verskaffing te dek, asook die operasionele kostes en om te verseker dat ons genoegsame fondse het om in Eskom se ‘Committed Bill’-program te belê,” sê Adam.

“Ons het reeds in Oktober verlede jaar aansoek gedoen vir 13% verhoging vir ons eie behoeftes en ‘n addisionele 3%, wat ‘n totaal van 16% gee. Die addisionele 3% is vir die bekendstelling van onafhanklike kragverskaffers.” Die verhoor vind by die stadsraad-kantore op die hoek van Nelson Mandela en Markgraafstraat plaas.