Nege dae van pret by Bloemskou 2019

0
666
By die bekendstelling van vanjaar se Bloemskou was van links, Tlagu Molokoane, bemarkingsbestuuder van die Bloemskou, Christel Basson, hoofbestuurder van Mahareng, uitgewers van Bloemfontein Courant en Get It Magazine, Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van die Bloemskou en Lindiwe Mtwentula, bemarkingsbestuurder van OFM. FOTO: PIETER DELPORT

Die Bloemskou is verlede week Woensdag bekendgestel tydens ‘n spoggerig geleentheid in die banketsaal op die skouterrein.
Volgens Elmarie Prinsloo kan Bloemfonteiners van 26 April tot 4 Mei uitsien na nege dae vol pret. ‘n Hele klomp verrassings wag op skougangers, met die wêreldrekordpoging vir “Die wêreld se grootste spookasem op ‘n stok”, wat beloof om een van die hoogtepunte te wees en iets waarna mense kan uitsien.
Volgens ‘n persverklaring, gaan die Bloemskou ook teruggee aan minderbevoorregte kinders met die “Joy for Charity”-projek wat meer as 700 kinders na die skou sal bring.
Daaglikse hoogtepunte wat nie misgeloop mag word nie, is die Vodacom- sintetiese ysskaatsbaan waar mense hul vernuf kan toets teen R20 pp vir 15 minute.
Die militêre uitstallings deur die SANW en die SAPS-uitstalling in die Cosmos-saal beloof ook om baie besoekers trek.
Hierdie jaar gaan meer as 350 uitstallers hul produkte aanbied, waaruit 50 kosstalletjies is. Daar sal twee halfprysdae wees, op 29 April en 2 Mei. Bloemfonteiners kan verder uitsien na meer as 15 nasionale en plaaslike kunstenaars op die verhoog tydens die 9 dae van pret. Hulle kan ook uitsien na die Mej. Windmill Bloem Show en die Mej. Teen Bloem Show met Holly Rey as gaskunstenaar op die 26ste. Sondag 28 April sal die 15-minute “Big Bounce Troupe”-vertoning met profesionele trampolienoptredes plaasvind en op die 2 Mei gaan Demi Lee Moore (19:00) en Bok van Blerk (20:00) in samewerking met PWC en OFM by die Coca-Cola-verhoog optree. Met so ‘n verskeidenheid vermaak op die spyskaart behoort die skou ‘n onvergeetlike ervaring vir elke besoeker te wees.
Bloemfonteiners word aangemoedig om die Bloemskou 2019 te kom geniet.
Hekke open om 8:00, en sluit om 20:00, behalwe op Sondag wanneer die ure 8:00 tot 17:00 is.
Uitstallersale se handelsure: Daagliks van 10:00 tot 20:00.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir meer inligting, skakel 051-448-9894/5/6 of www.bloemshow.co.za.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za