Neem ook ‘n beleggingsvakansie

0
488

Beleggers sal nie weer ‘n 2018 wil beleef nie. Met die skryf van vandag se rubriek was die plaaslike aandelebeurs ‘n bietjie meer as 11% af vir 2018.
Baie mense is reeds met vakansie en is in ‘n ontspanne luim. Ek wil voorstel dat jy, behalwe vir ‘n fisieke vakansie, ook ‘n beleggingsvakansie neem. Vergeet vir die volgende maand van jou beleggingsportefeulje en die rowwe rit wat jy in 2018 gehad het.
Ek deel bietjie raad van Glacier van Sanlam met julle. Dit sal goed te pas kom in 2019 wanneer beleggingsbesluite tydens hoë vlakke van volatiliteit en onbestendigheid geneem moet word. Eerstens, verstaan jou beleggingsopbrengste. Die meeste beleggers is in effektetrustfondse belê. Een van die belangrikste grondbeginsels by beleggings is om “laag te koop, en hoog te verkoop”. In wese beteken dit dat jy iets koop wanneer dit goedkoop is en verkoop wanneer dit duur is sodat jy ‘n wins kan maak.
Effektetrustfondse volg dieselfde beginsel, maar mense is egter geneig om uit hulle effektetrustfondse te verkoop wanneer opbrengste swak of negatief is, met ander woorde, wanneer die effektetrustfonds se ondeliggende eenhede goedkoper geprys is. Daar word dan weer in effektetrustfondse belê wanneer opbrengste op finansiële markte sterk of positief is, met ander woorde, wanneer die onderliggende eenhede duurder geprys is.
Dié tipe van praktyk kan ‘n reële waardevermindering tot gevolg hê, wat beteken dat jy jou verliese realiseer (jy maak dus ‘n papierverlies, ‘n werklike verlies). As jy hierdie konsep in gedagte kan hou wanneer jy beleggingsbesluite neem, kan jy effektief jou kanse op ‘n goeie resultaat verhoog. Tweedens, balanseer jou risiko’s. Om risiko’s te neem is deel van die alledaagse lewe. Beleggingsrisiko’s is uniek, omdat dit meetbaar is. Die twee belangrikste risikofaktore wat jy as belegger in ag moet neem, is markrisiko, met ander woorde jou blootstelling aan finansiële bates waarvan die prys wissel (positief of negatief), asook uitkomsrisiko, wat beteken dat jou beleggingsrisiko nie die uitkoms lewer soos wat jy verwag het dit sou nie.
‘n Voorbeeld van markrisiko is om al jou geld in die Top 40-aandele te belê. Dit beteken dat die waarde van jou belegging gaan styg wanneer die pryse van die Top 40-aandele styg, maar sal daal wanneer die Top 40-aandele se pryse daal. ‘n Voorbeeld van uitkomsrisiko is om 20 jaar lank vir aftrede te spaar, maar dan nie genoeg geld te hê om ‘n pensioen te bekostig wat jou lewenstyl kan volhou nie. Dit is belangrik om daardie twee risiko’s te balanseer wanneer jy na jou beleggings kyk.
Laastens, kry professionele advies. ‘n Beleggingsplan is baie meer ingewikkeld as dit. Aspekte soos belastingbeplanning, bepaling van jou risikoprofiel, bate-allokasie en likiditeit vereis die dienste van ‘n professionele finansiële beplanner om te verseker dat jou behoeftes in ‘n beleggingsplan omgesit kan word.
Agter elke suksesvolle belegger, is daar gewoonlik ‘n lang verhouding met ‘n professionele finansiële beplanner. Behalwe vir die samestelling van ‘n beleggingsplan, advies en leiding, lewer ‘n finansiële beplanner ‘n diens van onskatbare waarde deur besluite weg van ‘n emosionele reaksie na rassionele langtermynbesluite te stuur.
Gaan hou nou eers vakansie en geniet die feesseisoen saam jou familie en vriende. ‘n Geseënde Kersfees, en ons gesels dan weer vroeg in 2019. – Horace Terry
horace@nassaux.com