Neem goeie vakansiefoto’s

0
801

SANDRA MULDER

Vakansiefoto’s is iets wat mense geniet vir die res van hul lewens. Dit is soms die enigste herinnering aan ’n heerlike tyd saam met geliefdes. Om dié rede moet ’n mens die vakansietyd gebruik om jou fotografiese vaardighede te verskerp. Stel hierdie agt wenke op die proef:

  1. Organiseer die elemente in die foto met sorg. Die hoofelement van die foto kan net langs die middelpunt van die foto wees. As die hoofelement in die middel geplaas word, is daar oorbodige spasie gewoonlik om die hoofelement. Deur die hoofelement net langs die middelpunt te plaas, werk goed as daar iets in die agtergrond is wat jy ook in die foto wil hê.
  2. Beweeg nader aan die onderwerp of zoem in op die onderwerp. Mense is meer beïndruk met foto’s waarin die onderwerp groot is en die fotoraam vul.
  3. Foto’s van families en groepe word baie met vakansies geneem. As jy groepe afneem, neem baie foto’s. Die foto’s moet ook vinnig geneem word voordat mense in die groep se geduld min raak. Maak dit ook plesierig dat mense goeie herinneringe aan die foto kan koppel.
  4. Neem vinnige foto’s wanneer spesiale oomblikke wat van korte duur is, waargeneem word. Dit is soos ’n kind wat kersies doodblaas. As jy vermoed sulke oomblikke gaan binnekort aanbreek, stel jou kamera solank reg sodat net die knoppie gedruk kan word.
  5. Moenie die flits binnenshuis gebruik as daar genoeg natuurlike lig of ander lig is nie. Flitslig kan ’n foto baie onnatuurlik laat lyk.
  6. Gebruik flitslig buite, al skyn die son. Forseer jou flits om buite af te gaan. Dit haal nie net skaduwee uit gesigte nie, maar laat foto’s soos meesterswerke lyk.
  7. Gebruik refleksies op water, ruite en ander blink oppervlakte deur eerder op die weerkaatsing te fokus as die onderwerp self.
  8. Speel met die sluiterspoed van die kamera en neem kunsfoto’s. As die sluiterspoed laer gestel word, terwyl die kamera beweeg word, word konkellende lyne afgeneem. Dit lyk goed as jy dit doen met kersboomliggies.