Nederinge Snyman skitter vroeg in die seisoen

0
1276
Jacques Snyman van die VKB Knights op dag een van die KSA Vierdag-stryd teen die Warriors by die Mangaung Oval in Bloemfontein. FOTO: FRIKKIE KAPP/GALLO

Die VKB Knights het hul 2020/21-krieketseisoen op ‘n hoë noot van stapel gestuur tydens die KSA 4-dag-reekswedstryd teen die Warriors op die Mangaung Oval in Bloemfontein.

Na nagenoeg sewe maande van geen plaaslike krieket in Suid-Afrika nie weens die Covid-19-pandemie het die nuwe seisoen amptelik Maandag begin.

Die Knights het die loot gewen in die Rosestad, en ten spyte van al die reën verlede week, was die kolfblad beslis geskik om eerste te kolf, wat presies was wat die span van Sentraal Suid-Afrika gedoen het.

Sommer ná ‘n paar boulbeurte was dit duidelik dat dit die regte besluit was. Die aanvangspaar, Jacques Snyman en die nuweling, Matthew Kleinveldt, het onmiddellik beheer geneem van die wedstryd en ‘n vennootskap van 164 lopies om die eerste paaltjie op die telbord geplaas.

Dit was egter Snyman wat deeglik ingeklim het en die Warriors se boulaanval kis gemoker het met ‘n beurt van 109 lopies. Wat sy beurt werklik indrukwekkend gemaak het, was die feit dat hy slegs 71 balle getrotseer het, en sodoende die eerste speler in tien jaar geword het om ‘n honderdtal op dag een van ‘n vierdagwedstryd voor middagete aan te teken. Die laaste speler om dit te doen, was die Vrystaat-grote, Rilee Rossouw, teen die Titans op SuperSport-park in Centurion in 2010. Rossouw het in daardie wedstryd vir die Eagles 319 lopies gemoker, wat tot vandag sy hoogste eersterangse telling is.

Snyman het ook in sy pragbeurt die geskiedenisboeke herskryf deur die vinnigste vierdaagse honderdtal aan te teken. Die vorige rekord is gehou deur die draaibalbouler, Shaun von Berg, wat destyds vir die Titans gespeel het, maar egter nou Snyman se spanmaat by die Knights is.

Ná sy skitterende vertoning met die kolf het Snyman teenoor Bloemfontein Courant erken dat hy glad nie bewus was van dié rekords nie. “Dit was regtig lekker om weer terug te wees op die speelveld. Om vir die Knights te speel is ‘n groot eer en voorreg, so ek het letterlik elke sekonde daarvan geniet.

“Ek het nooit geweet dat ek die rekord gebreek het nie. Maar toe ek van die veld afstap, kom Farhaan Behardien na my toe en vra of ek weet dat ek die rekord verpletter het.

“Ek het gesê dat ek glad nie daarvan bewus was nie en toe eers besef hoeveel dit vir my beteken, veral die rekord van Rilee Rossouw, aangesien ons almal weet watter groot krieketspeler hy is.

“Fudgie noem toe ook dat ek die rekord van Shaun von Berg vir die vinnigste honderdtal in vierdag-krieket gebreek het. Dit beteken net soveel vir my. Ek het nooit eens geweet van dié rekords nie. Ek het nooit daaraan gedink nie, maar ek is net bly dat ek die seisoen op ‘n hoogtepunt begin het en die span in so ‘n goeie posisie kon plaas.”
Snyman het bygevoeg dat hoewel die kolfblad geskik was vir kolfwerk, ‘n speler steeds toestande in ag moes neem.

“Ja, die kolfbald is plat, maar daar is altyd ‘n bal met jou naam op. Jy moet vol vertroue wees met elke hou wat jy slaan en jouself daartoe verbind en dit dan van daar af neem.”

Snyman het verder beïndruk tydens die Warriors se eerste kolfbeurt toe hy drie paaltjies vir slegs 29 lopies platgetrek het. Slegs Von Berg het ‘n beter boulontleding getoon met 4/54.

*Teen druktyd was dié kragmeting in Bloemfontein nog nie afgehandel nie. – MORGAN PIEK