“Hierdie gradering sal my motiveer om meer navorsing te doen, my uitkomste te verbeter en vir ’n hoër C-gradering te mik.” Dit was die reaksie van dr Jay le Roux nadat hy onlangs ’n Y2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang het.
Dr Le Roux, senior lektor in die Departement Geografie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is een van 31 nuwe NNS-gegradeerde navorsers aan die UV. “Hierdie gradering sal dit vir ons moontlik maak om tydens veldwerk op meer spesifieke navorsing te fokus en om met ander kundiges in aanraking te kom. Navorsers word gegradeer volgens hulle potensiaal of bydrae tot hulle onderskeie vakgebiede,” het hy gesê.
Sy navorsing oor die risiko van watererosie in Suid-Afrika (SA) is ’n metodologiese raamwerk wat op drie hiërargiese vlakke aangebied word. Dit is gedoen in samewerking met die Universiteit van Pretoria (UP), die Waternavorsingskommissie, die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, en onlangs ook Rhodes-Universiteit en die Departement van Omgewingsake. Dr Le Roux was vir vyf jaar geregistreer by UP terwyl hy voltyds vir die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Grond, Klimaat en Water (LNR-IGKW) gewerk het.
Water erosion risk assessment in South Africa: towards a methodological framework,toon die mees praktiese erosie-evalueringstegnieke en inset-datastelle wat gebruik kan word om watererosiekenmerke in SA te karteer. Dit beklemtoon ook die eenvoud wat vir toepassing op streekskaal vereis word, met behoorlike insluiting van die belangrikste erosie-oorsaaklike faktore.
Die hoofkenmerk wat hierdie benadering van vorige studies onderskei, is die feit dat erosiekenmerke in hierdie studie as individuele sedimentbronne geïnterpreteer word. Die modellering van die sedimentleweringsbydrae uit slooterosie (ook bekend as dongas), met die klem op konnektiwiteit en sedimentvervoer, kan as ’n belangrike stap beskou word in die rigting van sedimentproduksie op streekskaal.
Grond is ’n belangrike, maar beperkte natuurlike hulpbron in SA. Gronderosie behels nie net die verlies van vrugbare bogrond en die verlaging van grondproduktiwiteit nie, maar gaan ook gepaard met ’n ernstige impak ten opsigte van verhoogde beweging van sediment en storting in riviere op ander plekke.
Die toeslikking van damme is ’n groot probleem in SA, veral damme wat in uitgekalfde opvangsgebiede geleë is. Dr Le Roux het onlangs ’n model ontwikkel om sedimentleweringsbydrae uit slooterosie op ’n groot opvangsgebiedskaal te evalueer. “Die Mzimvuburivier-opvangsgebied is die enigste groot riviernetwerk op rekord in SA sonder ’n dam.” Die vloei en sedimentlewering in die opvangsgebied het dit moontlik gemaak om damleweverwagting op tussen 43 en 55 jaar vir toekomstige damme in die gebied te skat.
“Ek beplan om ’n gronderosiemodel te voltooi wat die sedimentopbrengs van slooterosie op ’n groter skaal sal bepaal.” Dit sal nuttig wees om die lewensduur van damme te bepaal waar slooterosie ’n groot probleem is. Twee van sy PhD-studente werk tans aan projekvoorstelle om gronderosie met behulp van afstandwaarnemingstegnieke te evalueer.