Naval Hill Parkrun vier 200ste wedloop

0
2863
Deelnemers aan die Parkrun gereed om weg te spring voor die Nelson Mandela-standbeeld. FOTO: JAN VAN DER MERWE

Die Naval Hill Parkrun het op 4 Mei 2014 met slegs 61 deelnemers begin en vandag is daar gemiddeld 800 persone, oud en jonk, wat elke Saterdag deelneem. Die grootste aantal deelnemers tot dusver was 1 430. Tyd staan beslis nie stil nie, want dié Parkrun vind hierdie naweek vir die 200ste keer plaas.
Volgens Leon Engelbrecht, stigter van die Bloemfontein Naval Hill Parkrun, word die weeklikse samekoms van hardlopers aan die begin van Mei vier jaar oud.
Engelbrecht sê daar is baie stories van hoe die Parkrun mense se lewens verander het. Hy vertel dat die oudste deelnemer, mnr. Francois Mostert, beter bekend as Oom Frans, hierdie jaar op 20 Junie 90 jaar oud word.Hy neem Saterdag deel aan sy 100ste Parkrun op Naval Hill en gaan ‘n swart hemp met ‘n 100 op van Mr. Price ontvang.

‘Oom Frans’ in aksie by die Naval Hill Parkrun FOTO: ELIZE-MARE CILLIERS

Engelbrecht sê daar is ook ‘n ouer dame van 80 wat deelneem. Sy was blykbaar meer in die hospitaal as by die huis voordat sy aan die Parkrun begin deelneem het. Sy was daarná een keer in die hospitaal, maar dit nadat sy van ‘n leer afgeval het.
”Ek wil by Bloemfonteiners ‘n gesonde leefstyl kweek en hulle van die rusbank af kry,” sê Engelbrecht.
Die Naval Hill Parkrun het soveel gegroei dat daar nog twee Parkruns in Bloemfontein gestig is, die een in Langenhovenpark, agter The Towers, en die ander een in Heidedal by die Clive Solomon-stadion.
Om te registreer, besoek die Naval Hill Parkrun-webtuiste, skep ‘n profiel, druk die profiel uit, en neem die strepieskode saam na die wedloop. Sodra jy geregistreer is, sal jy jou uistlae ná elke wedloop ontvang.

Zilke Prinsloo 
zilke@mahareng.co.za