Dr Gerhard H Verdoorn, Griffon Gifinligtingsentrum, nesher@tiscali.co.za 082-446-8946 en Vereniging van Dieregesondheids- en Plantbeskermingsverenigings van Suid-Afrika (AVCASA)
‘n Nuwe term “Volhoubare ontwikkeling” het die gonswoorde van die 20e eeu oorgeneem en allesoorheersend geraak. Net waar daar openbare vergaderings gehou word en politieke uitsprake gemaak word, word volhoubare ontwikkeling as die redder van die aarde en die mensdom uitgebasuin. As daar nuwe grond gebreek word vir ontwikkeling of mynbou dan is almal verheug sonder in agneming van die impak daarvan op die natuurlike omgewing. Ons plantgemeenskap in Suid-Afrika is vol baie waardevolle plante waarvan ‘n groot gedeelte bolplante en klein kruieplante is. Deur die eeue heen is hierdie plante deur inheemse tradisonele genesers vir ‘n groot verskeidenheid doeleindes aangewend maar soos wat die jare aanstap raak die plante al hoe minder.
Een van die bekendste plante is die sogenaamde Afrika-aartappel van die genus Hypoxis. Die bol bevat steroliene wat volgens alle aanduidings definitief geneeskundige eienskappe het. Die bolpant met sy heldergeel blomme groei algemeen en wydverspreid oor die Hoëveld heen waar dit in die vroeë somer begin blom, veral in areas waar die veld gebrand het. Tradisionele genesers oes van die bolle vir hulle praktyke en as dit rege gedoen word is die impak op die spesies se bevolking nie noemenswaardig nie.
Die probleem onstaan egter wanneer daar ontwikkeling plaasvind. Dit grief mens as jy met jou omswerwinge skielik op ‘n plek afkom waar die veld soos ‘n bar woestynlê in afwagting op ‘n stel geboue of fabrieke wat opgerig gaan word. Dit het my onlangs weer opgeval daar naby Brakpan in Gauteng waar ek kleintyd 20 olifantspootjies of Lithops leslei met ‘n spesiale permit uitgehaal het. Daar was ook baie vingerpolle van die Euphorbia genus wat ook medisinale eienskappe het. Ek het later van tyd aansoek gedoen om ‘n permit om nog plantjies uit te haal maar dis geweier. Toe ek twee maande gelede daar verby is, is die hele aarde omgedolwe om plek te maak vir fabrieke.
Nou is my vraag of die owerhede permitte toegestaan het vir die vernietiging van die plante terwyl ek jare gelede permitte vir die uithaal van ‘n plantjies geweier is. My doel was om so vyftig te kry sodat ek genoeg kon hê om mee te kweek. Die ontwikkeling se doelwit was om die hele bevolking te vernietig om fabrieke op te rig. Dit klink baie na nie-volhoubare ontwikkeling.
Soos met die olifantspooitjies en Afrika-aartappels is daar menige plekke waar medisinale plante en ander waardevolle plante bloot in die slag bly ter wille van “volhoubare ontwikkeling”. Is dit nie tyd dat ons klompie bewaringskundiges die staat oortuig dat daar planthervestigingsprogramme op alle ontwikkelings afgedwing moet word nie? Of is dit dan net die lewens van diere wat na waarde geag word? Ons is stelselmatig besig om die veldapteek se voorraad uit wis terwyl daar nog ongekende farmaseutiese rykdomme in veld staan wat miskien binnekort voor ontwikkeling gaan swig.