Nasionale kwiltfees op pad

0
Nasionale kwiltfees op pad

Maricelle Botha

In Julie vanjaar sal kwilters van heinde en verre na die Rosestad stroom vir die tweejaarlikse Suid-Afrikaanse Nasionale Kwiltfees wat hier gehou word. Dit is die 17de fees en word onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde aangebied.
Iessie Steenberg, voorsitter van die die Oranje Kwiltersgilde, wat gasvrou (die gilde) gaan speel vir dié nasionale fees, vertel dat die fees iets vir almal bied. Daar is werkwinkels vir kwilters op alle vlakke. Vir diegene wat nie self kwiltwerk doen nie is daar ’n uitgebreide tentoonstelling van werke asook stalletjies wat ‘n verskeidenheid kwiltprodukte sal verkoop.

Steenberg vertel dat sy kwiltwerk as baie terapeuties ervaar. Die kwiltgogga het haar gebyt toe sy as sewejarige met bloedkanker gediagnoseer is en sy ‘n groot deel van haar dae in die bed moes deurbring. "Ek moes in die huis bly, die deure moes toe, daar moes nie ‘n wind trek nie want my immuunstelsel was toe baie swak. So het ek toe begin kwilt, want waarmee hou jou ma jou besig binnenshuis? Ek moes op my bas sit en lappies aanmekaar werk." Sy vertel dat sy destyds nog nie regtig geweet het waarmee sy besig was nie. Eers later het sy name vir seker tegnieke gekry toe sy in die tagtigerjare begin klas loop het by die kwiltmeester, Di van Niekerk. Sedertdien doen sy graag navorsing oor nuwe tegnieke, gee klas en ontwerp kwiltpatrone.

Wat kwiltwerk in Suid-Afrika betref, vertel sy dat ons ‘n meer ‘los’ styl het as byvoorbeeld Amerika of Europa wat nog baie rigied is. "Dit is veral materiaal soos die eg Suid-Afrikaanse Sheshwe wat ’n 100% katoenproduk is, wat een van ons sterk invloede is. Daar is kwilters wat net met dié lap werk."

So, diegene wat daarin belangstel om meer van hierdie kunsvorm te leer, maak ’n aantekening in jou dagboek en gaan maak ‘n draai by Hoër Meisieskool Eunice tussen 1 en 7 Julie. Bespreek ook vroegtydig jou plek vir die werkswinkels by Computicket. Vir ‘n volledige program van die fees, kontak Steenberg by iessie@vodamail.co.za of by 082-705-5279.

No posts to display