Naln verwelkom nuwe kurator

0
808
Wyno Simes, nuwe kurator van Naln. Photo: Pierce van Heerden

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), bewaarplek vir materiaal en inligting oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en musiek, is opgewonde om Wyno Simes as kurator te verwelkom.

Simes is oorspronlik van Bloemfontein, hoewel hy vir die afgelope 22 jaar in Kaapstad gewoon het.

Simes het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy baie opgewonde is oor sy nuwe pos, veral omdat die eerste werk wat hy gehad het by Naln was as ‘n assistant-museumgeesteswetenskaplike.

Op die vraag oor sy planne vir Naln, het hy gesé, “Ek sal graag die destydse Leeskringseminaar, wat in Welkom gehou is, in een of ander formaat wou laat herleef.”
Hy het bygevoeg, “Ek sien die meeste daarna uit om Afrikaans vir almal wat die taal praat verder uit te bou en die Afrikaanse letterkundige erfenis in al sy vorme, insluitende toneel en musiek, te bewaar en te bevorder.”

Simes het tydens sy verblyf in die Kaap vir die parlement gewerk as Hansard-verslaggewer en -vertaler. Daarna het hy 18 jaar by Media24 deurgebring, onder meer as vertaler en teksredakteur.

As hy nie werk nie, lees hy graag en luister na ‘n verskeidenheid musiek of kyk rolprente. Hy is ‘n ywerige leser en versamelaar van boeke.
Simes hou ook van die natuur en gaan graag na die Krugerwildtuin om vakansie te hou. – Sazly Hartzenberg
sazly@centralmediagroup.co.za